11 dae gelede
Die natuur is drie vriende se apteek
VIRUS? watse virus? Dié manne wat in die bosse slaap, sê die natuur se eie kruie is hul doepa teen Covid-19.  ~ Basil Davids

ASHTON. – Vir ’n groep mans wat al jare die bosse­ hul slaapplek maak, is Covid-19 nie iets wat hulle slapelose nagte gee nie.

Dié ouens bly in die bosse tussen Robertson en Ashton.

Sam Deysel sê hulle kry nie eens ’n verkoue of griep nie.

“Mense sou dink dat ons die eerste moes gewees het wat van Covid gesterf het. Maar siedaar, hier staan ons nog perdfris en gesond,” sê Deysel.

Deysel se tjommie Gert Meyer stem volkome saam.

Meyer sê dat hulle hier in die veld al die medisyne oor die jare kry.

“Hier is vir jou boegoebos, rooiwortel, kennablare, wilde­als ... noem maar op. Die hele se apteek is sommer hier by ons en dit is verniet,” vertel hy.

Volgens die manne het geen van hulle nog simptome van Covid-19 getoon nie.

Hulle moedig mekaar nog elke dag aan om hul kruie op ’n nugter maag te drink, want hul voorouers het hulle so geleer.

Meyer sê hoe bitterder die dosis aangemaak word, hoe gesonder is dit vir die liggaam.

“Die kruie moet in warm water soos tee aangemaak word en ’n dag lank trek.

“Dan is hy gereed om teen die virusse te veg,” vertel Meyer ernstig.

Hul ander vriend, Daantjie Lawrence, sê hy glo dat hulle sommer vir nog ’n dekade sal oorleef solank hulle die natuur se medisyne gebruik.

Verder twyfel die ouens of hulle eendag die inenting teen die corona-virus sal wil neem.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters