9 dae gelede
Die mense soek geregtigheid
moan: Kapt. Lilian Patience (regs) luister na die mense se griewe. Foto: kallie smit  ~ 

SARON. – ’n Aantal Rastafariërs het onlangs ’n optog gehou om geregtigheid te eis vir die dood van Joseph Olivier.

Son het sewe jaar gelede oor Olivier (46) berig nadat hy homself na bewering in die aanhouding­selle van die polisiestasie hier opgehang het. Sy familie het hierdie bewering betwis.

Die uitslag van die ondersoek na Olivier se dood is twee weke gelede aan sy familie bekend gemaak.

Die rasta-gemeenskap van Saron het saam met Olivier se familie die uitslag van sy dood bevraagteken. Hulle het toe ’n memorandum aan die polisie oorhandig ná ’n optog deur die dorp waaraan Rastafariërs vanoor die Wes-Kaap deelgeneem het.

Die optog volg op ’n soortgelyke march in Januarie vanjaar toe Rastafariërs ook in Wellington ’n protesoptog gehou het ná die dood van Jan de Bruin in polisie-aanhouding.

Van die mense wat die optog vir De Bruin gereël het, het ook Olivier se familie kom ondersteun.

Crystal Jacobs (32) sê hulle is meegedeel dat die ondersoek na haar pa se dood aangedui het dat daar geen bevinding was dat Olivier vermoor is nie.

Jacobs sê: “Ons is nooit op hoogte gehou van die ondersoek na my pa se dood nie.

Stapel

“Die polisie het ons kort voor die uitslag daarvan, ná sewe jaar, gelas om by die landdroshof in Tulbagh te wees.

“Hulle het vir ons foto’s gewys wat in my pa se sel geneem is.

“Daar was ’n stapel van ag komberse en nóg twee wat eenkant gelê het waarop my pa glo gestaan het toe hy hom, soos hulle beweer, met sy broek opgehang het.

“Dit was in die middel van die somer en 40 grade daai dag. Hoekom so baie komberse en dit terwyl hy alleen in die sel was?

“Die landdros het gesê ons kan weer die saak optel, maar dan moet ons ’n prokureur kry. Ons beplan om dit te doen.”

Die optog deur die dorp, wat by Olivier se huis begin het, het vreedsaam verloop, maar daar was enkeles wat handuit geruk het by die polisiestasie toe die memorandum oorhandig is.

Hulle is egter sommer baie gou deur hulle leiers tot orde geroep.

Ras Ebrahim Murat (39), sekretaris van die Nyahbinghi House (kerkorde) van Saron, het die rasta brotherhood gevra om nie die polisie as hulle vyand te beskou nie, maar om met hulle saam te werk.

Kol. Joseph Hoorn van Saps se Worcester cluster het die memorandum met die demands van die rastas in ontvangs geneem.

Toegespreek

Van die eise sluit onder meer in dat polisiewreedheid teenoor Rastafariërs gestop word en dat ’n grondige interne ondersoek na Olivier se dood gedoen word.

Kapt. Lilian Patience, bevelvoerder van die polisiestasie in Saron, het die groep toegespreek en gesê dat die polisie oor sowat twee weke met Olivier se familie sal vergader nadat hulle die eis in oënskou geneem het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters