2 maande gelede
Die hoenders in oor poste
FABRIEK :Dis business as usual by die Elgin Poultry Abattoir nadat sowat 500 werkers afgedank is.  ~ Peter Abrahams

SOWAT 500 werkers van Elgin Poultry Abattoir het in Grabouw amok gemaak nadat hulle afgedank is.

Hulle is gefire nadat hulle Donderdag ’n onwettige betoging buite die gebou gehou het.

Traangas

Maandagnag het werkers toerusting van die maatskappy uitgebrand en probeer om die fabriek af te brand.

Karre op die N2 is gister met klippe bestook. Die polisie het traangas gespuit en rubberkoeëls geskiet om die betogers te laat bedaar.

Son verneem die werkers het betoog omdat hulle ongelukkig is oor van die reëls by die werk.

Volgens gerugte is die werkers glad nie impressed met die persoon wat in beheer is van die HR-afdeling nie.

Mense beweer hy dank werkers links en regs af.

Die gemeenskapsleier Moses Madizena was in beheer van die betoging.

Hy het aan Son gesê die werkers se griewe kom al van laas jaar aan.

Volgens Madizena het hulle daardie tyd al probeer om met die bestuur te vergader.

“Die werkers was ontevrede oor HR 13 mense afgedank het.

“Die maatskappy het belowe om met ons te vergader, maar het nooit.

“Toe ons mense vanjaar weer begin werk, was hulle ontsteld oor dinge nog nie verander het nie.

“Hulle het besluit om te betoog. Van die werkers is ge­arresteer oor hulle betoog het, en dís wat die ander werkers nog meer kwaad gemaak het.”

SUPPORT: Die gemeenskap staan gister die werkers by deur saam te betoog.

By Son se besoek gister het die polisie met Madizena gepraat.

’n Polisiebeampte het hom gevra om die betogers tot bedaring te bring en te keer dat hulle die N2 versper.

Intussen verneem Son die maatskappy het reeds nuwe werkers in die afgedanktes se plek aangestel.

Volgens ’n inwoner, Sibusiso Mabona, veroorsaak dit nou wrywing tussen swartes en bruines.

Hy beweer werkers word met busse ingebring om by die fabriek te werk.

Toe Son gister die plek besoek, was daar twee kennisgewings op die hek.

Jammer

In die een brief vra Linka Cameron, besturende direkteur van Elgin Free Range­ Chickens, die werkers om die betoging te staak. In die ander word hulle van hulle afdanking in kennis gestel.

STOUT: Selfs kinders het die werkers ge-join.

Jeanne Groenewald, die CEO, sê hulle voel jammer vir die werkers wat Donderdag aan die onwet­tige betoging deelgeneem het.

“Die maatskappy het telkemale probeer om met die werkers in kontak te kom, maar hulle het hulle nie daaraan gesteur nie.

“Daar is ook probeer om briewe vir hulle te gee om hulle ’n geleentheid te bied om terug werk toe te kom. Hulle het dit geïgnoreer.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters