19 dae gelede
Deureplek loop my in, kla hubby
Vies: Michael Moya by die kombuisdeur wat vervang moes word.  ~ Verskaf

PAARL. – ’n Black Friday special het tot gevolg gehad dat ’n man se Krismis glad nie aangenaam was nie.

Wat veronderstel was om vir Kersfees ’n verrassing vir sy vrou te wees, het op ’n groot teleurstelling uitgeloop.

Michael Moya (39) het besluit om sy vroulief se wens te vervul deur hul ou kombuisdeur, wat eintlik ’n sydeur vir ’n garage is, te vervang.

Moya het toe ook sommer besluit om as Kersgeskenk sy vrou, Deraldine, ’n fancy aluminiumdeur vir te koop.

Hy vertel: “Ek kry toe ’n Black Friday special by C I Aluminium in Athlone Industria vir R5 000 en as jy dit once off betaal, is die installering gratis. Op 30 November kom haal een van hul direkteure, Ismail Patel, die geld by my en ek gee hom toe die volle bedrag.

“Hy sê toe dat hulle die deur op 8 Desember sou kom installeer, maar op dié dag bel hy my om te sê sy werkers het die corona-virus opgedoen en hulle kan eers op 18 Desember kom. Ek sê toe dis fine.

“Ek hoor toe niks van hulle nie. Toe bel ek Patel op 21 Desember om uit te vind wat aangaan, maar hy antwoord toe nie sy foon nie. Ek bel toe van ’n ander foon af en toe antwoord hy sy foon.

“Hy sê toe hulle gaan van die volgende dag af weer begin werk en hy sal my laat weet wanneer hulle na my toe kom. Hy bel toe nie. Toe ek hom bel, tel hy nie die foon op nie.

“Ek stuur hom toe ’n boodskap en sê ek gaan stappe doen en hom in Son sit. Toe sê hy hulle gaan die deur op 24 Desember kom installeer. Hulle het nie gekom nie.

“Hy het daarop aangedring dat ek die deur vat en gesê ek sou nie die deur later teen dieselfde prys kry nie.”

Moya sê hulle was ’n bietjie skepties oor die transaksie omdat Patel so knaend was en die proses so gepush het. Hulle het vier jaar gelede ’n bloutjie geloop met ’n stoof wat hulle gekoop het. Hulle het R3 000 in die proses verloor.

Hy sê verder: “Dinge is nie lekker by my huis nie. Ek slaap nie lekker nie. My vrou se hart was op die deur. Wat kon ons nie met daai geld vir Krismis gekoop het nie?”

Moya het Saterdag 03:00 vir Patel ’n boodskap gestuur om sy ontevredenheid oor die kwessie uit te spreek. Patel het geantwoord en Moya gevra om hom nog ’n kans te gee om die deur te kom insit.

Moya het gesê as Patel hom weer aan ’n lyntjie hou, sál hy stappe teen hom doen.

Son het Patel verskeie kere gekontak, maar kon nie sy kommentaar kry nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters