16 dae gelede
‘Dankie dat julle my deur hel dra’
DANKBAAR: Margaret Marz met haar twee jongste dogters, die 12-jarige Lizelle (links) en Kaytlin (9).  ~ Kallie Smit

DIE toegewydheid en aanmoediging van hospitaalpersoneel het ’n dapper vrou van Saron die moed gegee om te veg en die hel te oorleef wat sy deurgemaak het.

Margaret Marz (47) se lewe het in Augustus 2009 ’n drastiese wending geneem toe sy saam met twee van haar dogters en twee vriendinne by ’n vuur gesit het.

Terwyl hulle om die vuur gesit het, het Marz se man dronk van die werk af gekom met ’n kan terpentyn, gemeng met ander vlambare chemikalieë.

Hy het daarvan op die vuur gegooi om dit te stook.

Marz vertel: “Ek het my man gevra om dit nie te doen nie omdat ek bang was die vuur ruk handuit, maar toe gooi hy vir ’n tweede keer ’n klomp van die mengsel op die vuur.

“Toe waai die wind die vlamme by die plastiekkan in en die kan ontplof en my klere slaan aan die brand.”

Marz is na die Lapa Munnik-hospitaal in Porterville gevat en oorgeplaas na die Paarl-hospitaal.

Marz sê: “Die pyn was ondraaglik. Behalwe vir my nek en gesig, het ek oor my hele lyf brandwonde opgedoen. My klere was aan my lyf vasgebrand.

“Die hospitaal het my familie in ’n stadium gevra om van my afskeid te kom neem.

“Ek het my bewussyn verloor van die pyn elke keer dat hulle my gewas het.

“Ek het so gestink dat ek gedink het daar is wurms in my lyf.

EINA! Marz is deur trauma soos min nadat sy gebrand het. Foto: Kallie Smit

“Die velle, vet en vleis het van my liggaam afgekom wanneer die verpleegsters my gewas het.

“Hulle het hande vol daarvan uitgehaal wat die bad verstop het.

“Ek het dit in ’n stadium oorweeg om my regterarm te laat afsit omdat dit baie erg gebrand was. Ek het gedink dit sou my te lank weghou van my dogtertjie, wat toe net een jaar oud was.

“Maar daar was ’n span verpleegkundiges in my saal wat uit hul pad gegaan het om my weer gesond te kry.

“Hulle het die ekstra myl geloop met my en baie van hul vrye tyd gebruik om my te bemoedig. Dit is grootliks aan hulle te danke dat my lewe gespaar is.

Ontslaan

“Hulle het my só uit daai donkerte gehelp dat hulle later ander pasiënte wat in dieselfde situasie as ek was, na my toe gebring het om hulle te bemoedig.

“Die dag toe ek ontslaan is, het die verpleegpersoneel van die vloer waar ek behandel is, buitentoe gekom en my by die ambulans kom groet.

“Ek het hulle daardie dag belowe dat ek hulle op ’n besonderse manier gaan bedank wanneer ek volkome herstel het.

“Ek het intussen onthou dat die verpleegpersoneel baie lief is daarvoor om Son te lees. Ek het toe gedink dit sou nice wees om vir hulle in hul gunsteling­koerant dankie te sê.”

Stafverpleegster Marinda Liebenberg is die enigste lid van daardie verpleegspan by die Paarl-hospitaal wat nog daar werksaam is.

Sy sê: “Ek is bly vir haar dankbaarheid en dat ons daar kon wees vir haar. Dit hou ons op ons voete, ook deur die kritiek wat soms na ons kant toe kom.”

Marz praat ook met groot lof van stafverpleegster Antoinette­ van Uys by die Lapa Munnik-hospitaal, waar sy vir nasorg was.

Bedoeling

Van Uys sê Marz kom knoop nog van tyd tot tyd ’n geselsie aan.

Marz en haar man is intussen geskei, maar sy sê sy het hom vergewe, want hy was dronk en dit was nie sy bedoeling om haar te beseer nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters