20 dae gelede
Daantjie maak kids padwys
aandag, almal: Leerders verkyk hulle aan Daantjie die Verkeerskat.Foto: BASIL DAVIDS  ~ 

ASHTON. – Padveiligheid is volgens die Langeberg-munisipaliteit se verkeersafdeling en die plaaslike polisie iets waaraan weinig aandag gegee word.

Onlangs het die verkeers­de­partement en die Ashton-polisie ’n veldtog gehou vir bewusmaking van padveiligheid.

Volgens AO Sylvester Joseph, ’n polisiewoordvoerder, het hulle die program by die Primêre Skool H. Venter aangebied.

Die baie bekende verkeers­kat Daantjie het ook sy verskyning gemaak.

Leerders het oopmond gekyk hoe dié gewilde kat hulle leer hoe om die padreëls na te kom.

Oorleef

Daantjie het daarop klem gelê dat die leerders voordat hulle ’n straat oorsteek eers regs, dan links en dan weer regs moet kyk. Vir talle was dit die eerste keer dat hulle van dié reël gehoor het.

Volgens Joseph is daar in die omgewing al baie plaaskinders, veral in die winter, deur motoriste raak gery.

Party kinders het die ongelukke oorleef, maar ander kinders was nie so gelukkig nie.

Daar is al talle kruise naby plaasafritte aangebring ter nagedagtenis van kinders wat hulle lewe op dié tragiese wyse verloor het.

Die leerders het die program baie geniet. Joseph sê hulle gaan soveel moontlik skole in die Vallei besoek om leerders oor padveiligheid in te lig.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters