19 dae gelede
DA-raadslid geskors ná beweringe

DIE DA-raadslid in Wellington wat uit alle partybedrywighede geskors is, sal ook aan geen munisipale aktiwiteite deelneem nie.

Seraj Johaar, uitvoerende direkteur van korporatiewe dienste van die Drakenstein-munisipaliteit, bevestig aan Son: “Damon Mintoor is deur die mayor, Conrad Poole, en speaker, Aidan Stowman, versoek om homself van alle munisipale aktiwiteite te verskoon.

“Drakenstein is sterk gekant teen enige vorm van geweld en veral gendergeweld. Die versoek is dus gemaak gegewe die erns van die aanklagte.”

Die raadslid se skorsing uit DA-aktiwiteite dié week hou verband met aantygings van gesinsgeweld en volg nadat sy vermeende slagoffer ’n beskermingsbevel teen hom uitgereik het. Hy is enkele maande nadat hy as wyk 3 se nuwe raadslid verkies is, by sy werk in die Paarl vir ondervraging gearresteer.

Onderonsie

’n Vriendin van die raadslid beweer dat hy haar tydens ’n onderonsie gewurg en aangerand het.

Die saak is einde Februarie voorlopig teruggetrek vir verdere ondersoek, maar verlede week het die slagoffer ’n beskermingsbevel teen die raadslid bekom.

Koos Steyn, DA-voorsitter van Wes-streek, sê die party beskou die beweringe as ernstig. Hy het aan Paarl Post bevestig: “Nadat interne prosesse gevolg is, het die party besluit om Mintoor uit party-verwante bedrywighede te skors hangende die uitslag van die saak.”

Intussen sê Stowman: “Die gedrag van raadslede word deur ’n gedragskode voorgeskryf en daar sal in terme van die dissiplinêre kode streng opgetree word teen enigeen wat dit oortree.”

Johaar noem ook: “Die raad sal die uitslag van die ondersoek hanteer sodra dit ontvang word.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters