Verlede maand
Covid-19 maai onder familie
Saam geveg: Ruth Hartley het net soos haar susters en haar swaer aan Covid-19 gesterf.  ~ FOTO’S VERSKAF

VIR baie families en gesinne is Covid-19 deesdae die storm wat alles voor hom wegvee.

Die welbekende Hartley-familie van die Strand is ’n witness hiervan. Dié familie staan die naweek voor vier oop grafte nadat drie susters en ’n swaer binne 14 dae aan die gevreesde virus gesterf het.

Angus Hartley, die jongste van die sibbes, sê twee van sy susters – Ruth (69), ’n verpleegsuster, en Hester (67), ’n afgetrede onnie, – het op Maandagaand 19 Julie aan huis gesterf.

Drie dae later is sy geliefde swaer John Webner (72) dood en dae daarna is sy vrou, Dorothy (72), in die hospitaal opgeneem waar sy Sondag in die vroeë oggendure beswyk het.

Versorg

Die gemeenskap van die Strand is nou in rou gedompel omdat dié familie diep spore die samelewing getrap het.

Wyle suster Ruth was nog in diens as verpleegster. Sy het altyd probeer om haar medemens van hulp en raad te bedien, asook om hulle te versorg.

Sy was lief daarvoor om met bejaardes te werk.

John en Dorothy sal onthou word as mense wat nog tot op hul laaste sendingwerk onder die gemeenskap gedoen het.

Hulle het hulle daarvoor beywer om siek mense te gaan besoek en die mense met die woord van die Here te bemoedig.

Hester sal onthou word as die juffrou wat baie vir kinders omgegee het.

Honderde mense het hulle tot die sosiale media gewend, nie net om medelye aan die familie te betuig nie, maar ook om vir die wêreld te vertel wat hulle vir die gemeenskap van die Strand en omliggende dorpe be­teken het.

Volgens Angus word die vier Sondag 11:00 saam uit die Christian Brethren-kerk in Noltestraat in die Strand begrawe.

Vroeër in die jaar het die gemeenskap van die Strand nog ’n geval beleef waar drie mense van een gesin aan Covid gesterf het. Suster Magdelene Sou­thern, haar man, Willie, en Winston, hul seun, is saam veras.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters