Verlede maand
Couple sonder joie de vivre
Kan jy glo? Charmaine Newman het spoorloos verdwyn met ’n klomp mense se bruilofgeld.  ~ 

’N PAARTJIE van Parow is van hulle troue beroof.

Justine Klaasse (31) en Christopher Diedericks (35), sit met hulle hande in hulle hare nadat die persoon wat verantwoordelik was om hulle troue te doen soos ’n groot speld verdwyn het.

Klaasse en Diedericks is veronderstel om volgende maand af te haak en wou ’n klein, intieme troue met 70 gaste hê.

Hiervoor het die paartjie in Januarie te goeder trou R38 000 aan Char­maine Newman betaal.

Spoorloos

Newman was die huurder van die Joie De Vivre Country House en konferensiesaal op ’n plaas in Klapmuts waar die troue sou plaasvind.

Newman het intussen spoorloos verdwyn – met dié twee se R38 000 en blykbaar met ander paartjies se geld ook.

Die couple het verlede Vrydag ’n e-pos ontvang dat die plek nie meer vir hulle troue beskikbaar is nie omdat hulle geen geld ontvang het nie.

Dit nadat hulle eers ’n maand gelede uitgevind het Newman het met ál hulle geld weggehardloop.

Newman is na bewering al ’n paar maande weg. Son kon haar ook nie opspoor nie.

Ál die geld is direk in Newman se bankrekening betaal.

Klaasse se hart is in stukke oor die brou-troue.

“Ek is stukkend. Ek het hard gewerk om die dag te laat gebeur,” het sy aan Son gesê.

Diedericks sê op sy beurt hy is teleurgesteld in hoe dinge gedoen is en hoe die kommunikasie na hulle deurgekom het.

“Benewens die R38 000 is daar ’n klomp ander uitgawes wat aangegaan is,” vertel Diedericks.

Klaasse sê haar suster verloor ook ’n klomp geld omdat sy al die pad van Turkye sou kom en sy het reeds daarvoor geboek.

“My suster het klaar haar gesin se vliegkaartjies betaal en blyplek en ’n kar gehuur om na die troue te kom,” sê Klaasse ontsteld.

Jon Stoffberg, eienaar van die plaas, sê dis ongelukkig die situasie.

Stoffberg sê hy voel regtig jammer vir die paartjie. Hy voeg by Newman se besigheid het niks met die plaas te doen nie.

“Sy was net ’n huurder hier.”

Stoffberg sê Newman skuld hóm ook geld. Sy kon nie haar huur betaal nie.

“Ek het die besigheid toegemaak omdat sy nie huur betaal het nie.”

Hy sê hy het aangebied om die betrokke paartjie te help, maar hulle wou nie die hulp aanvaar het nie.

Stoffberg sou die venue, wittebroodsuite, kos én decor vir hulle gedoen het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters