11 dae gelede
Cops skud karre, kry Mandrax
FLUKS: Die cops het vinnig op die verdagte voertuie toegesak.  ~ Kallie Smit

DIE hoofstraat van Porterville het onlangs tot stilstand gekom toe die polisie twee voertuie gestop en deursoek het.

Die polisie het gereageer op ’n wenk en ’n wit Colt-bakkie en ’n swart Volkswagen Golf GTI afgetrek wat verdag voorgekom het.

Daar is aanvanklik gedink dat die kwaai opgedoende Golf gesteel was. Die polisie het egter later bevestig dat geen van die twee voertuie gesteel is nie.

Talle nuuskieriges het saamgedrom terwyl die polisie die kar en bakkie deeglik deursoek het. Hulle het in die bakkie drugs gevind en die insittendes is in hegtenis geneem.

Versteek

Kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, bevestig die inhegtenisneming.

“Drie mans (32, 34 en 38 jaar oud) is in hegtenis geneem nadat beslag gelê is op 96 Mandrax-tablette wat in die panele van die een voertuig versteek was.

“Die verdagtes het Dinsdag in die hof verskyn. Die saak is uitgestel tot 8 Desember, wanneer hulle weer in die landdroshof in Porterville sal verskyn.”

Inwoners was bly dat die dwelms nie hul eindbestemming bereik het nie omdat dwelmmisbruik op die platteland onder kinders en jong mense toeneem.

Dwelmsmokkelaars reik al hoe meer uit na plattelandse dorpe wanneer mededinging met druglords in die stad te gevaarlik raak.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters