Verlede jaar
Cops ry ou by huis in sy tjops
buite aksie: Heinrich Johnson moet nou krukke gebruik om oor die weg te kom.Foto’s: BOHEMIA HOFFMEESTER  ~ 

’N MAN van Wellington sê hy’s byna sy voete kwyt nadat ’n polisievên in hom geploeg het.

Die cops in die vangwa het ’n verdagte gejaag, maar toe tref hulle Heinrich Johnson glo waar hy in sy eie jaart gestaan het.

Johnson is nou nog op krukke nadat die vên hom op 8 November getref het.

Hy was besig om sy hek oop te maak toe hy die polisievoertuig gewaar.

Commotion

Johnson sê die een oomblik toe staan en gesels hy nog met sy vriend by sy hek en die volgende oomblik toe lê die vên bo-op hom.

Hy vertel: “Daar was ’n commotion in die ander pad.

stukkend: Die heiningmuur is in sy tjops nadat die polisievoertuig daarteen gebots het. FOTO VERSKAF

“Die verdagte het glo by die jaart langs myne ingehardloop.

“Ek het hom nie gesien nie. Ek het net gesien hoe die vên aan die verkeerde kant van die pad ry.

“Ek het gedink hy sou na die ander kant toe swaai, maar toe ek weer sien, toe lê ek onder die vên.”

Volgens Johnson het die bestuurder sy hek én sy muur omgery.

Hy’t tussen die stukkende bakstene beland met die vên bo-op hom, vertel Johnson.

Johnson voeg by: “My vriend Worsie moes kom help om die vên van my af te kry. Die bestuurder van die vên het ook gehelp en dadelik die ambulans gebel.”

John­son sê al was die ambulans binne 15 minute op die toneel, moes hy steeds ses uur by die hospitaal wag voordat hy gehelp is.

Teen daai tyd wou hy al teen die mure uitklim van die verskriklike pyn in sy bene.

eina! Heinrich Johnson se voete is darem nou besig om te herstel.

Hinkepink

Hy sê toe hy uiteindelik gehelp is, het hy 15 hegsteke aan elke voet gekry om die oop wonde te bind.

Johnson hinkepink steeds op krukke.

Hy sê hy is Sondag weer polisiestasie toe om op te volg oor die gebeure.

By die cop shop het hy verneem daar is reeds ’n saak aanhangig gemaak.

Johnson sê soos hy verstaan, het die polisie ’n saak van nalatige en roekelose bestuur teen ’n polisielid wat hulle ondersoek.

Pynlik: Só het Heinrich Johnson se voete kort ná die voorval gelyk.

’n Kaptein van die polisie het hom gister die eerste keer ná die ongeluk by sy huis besoek.

Die kaptein het hom toe laat weet die polisie is besig met ’n interne saak.

Johnson sê hy raadpleeg ook sy prokureur om te hoor of hy van die polisie kan eis.

Kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, het bevestig die polisie ondersoek ’n saak van roekelose en nalatige bestuur.

Kapt. Van Wyk voeg by: “ ’n Interne departementele saak is oopgemaak.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters