14 dae gelede
Cops, medics snel slagoffer te hulp
Kapt. FC van Wyk het die voorval bevestig.  ~ Argief

DE DOORNS. – ’n Vrou (31) is Maandagaand hier oorkant een van die wynkelders met ’n draad om haar nek aangetref.

Die man wat haar in dié toestand gekry het, het in ’n post in die sosiale media gesê hy het die vrou met ’n draad om haar nek gekry.

Die man vertel hy het die vrou omstreeks 19:30 in die pad sien lê en sy was byna dood.

Die post lui: “Ek’t die draad afgehaal dat sy kon asemhaal en vir haar water gegee.

“Ek het onmiddellik die polisie en die ambulans ontbied.”

Volgens die man het die slagoffer hom meegedeel vier manne geklee in oranje klere het haar in die bosse probeer verkrag en vermoor.

Respek

Hy sê die rede hoekom hy die voorval bekendmaak, is omdat hy die Worcester-polisie wil bedank vir hul vinnige optrede en flink diens.

Die Samaritaan sê: “Binne 10 tot 15 minute het die polisie vanuit Worcester by die toneel uitgekom.

“Ek is verstom oor die uiters professionele diens, insluitend die respek teenoor die slagoffer, wat hulle geopenbaar het.

“Vanaand was ek baie trots op ons polisiebeamptes.

“Dieselfde geld vir die blitsige optrede van die ambulansdiens.

“Die beamptes verdien met hierdie optrede baie meer as net ’n klop op die skouer.”|

Bevestig

Kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig.

Volgens hom is die vrou deur die FCS (die polisie se eenheid belas met gesins­geweld, kinderbeskerming en seksmisdrywe) na die hospitaal geneem waar die medici bevestig het sy is nie verkrag nie.

Van Wyk sê: “ ’n Verklaring is geneem, maar sy het besluit om nie ’n saak te maak nie.

“Die slagoffer is met haar familie herenig.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters