2 maande gelede
Cops grawe nóg lyke op
ouers: Reuben en Clara Jonkers is die ouers van die vermoorde Natalie. Foto’s: PETER ABRAHAMS  ~ 

DIE cops het gister laatmiddag in Wellington op die beendere van Natalie Jonkers, vermiste antie van Johan Williams se girlfriend, afgekom.

Dit was ná ’n lang tyd dat ’n digger die grond langs die Lady Lock-pad omgedolwe het. Dis die jongste ontwikkeling in die Williams-saga waarin lyke nou die een ná die ander opduik.

Sowat tien polisievoertuie was op die toneel en die pad was afgesper terwyl die cops leidrade gesoek het. Laatmiddag het ’n forensiese span op die toneel opgedaag.

Chantell Matthysen se lyk is Maandag en Maria Isaacs se lyk Woensdag naby dieselfde spot ontdek nadat Williams aan die polisie uitgewys het waar hy hul lyke gedump het.

’n Ingeligte sê die polisie het na die antie van Williams se girlfriend gesoek nadat hy haar glo sowat ses jaar gelede ontvoer het.

Williams het Woensdag nadat hy op vier klagte van moord en verkragting in die Wellington-landdroshof verskyn het, aan die polisie gaan uitwys waar hy Isaacs se lyk begrawe het.

Hy staan tereg vir die verkragting van sy meisie op 26 en 27 Junie, sowel as aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Hy word ook aangekla van die moord op Chantell en op Maria.

Maria het op 16 Junie na Williams toe gekom vir ’n werk op Touwsrivier.

Die familie is eers Woensdag in kennis gestel dat haar lyk gevind is.

Chantell is op dieselfde wyse na Wellington gelok waar sy op ’n plaas sou begin werk het.

Volgens Sophie Isaacs, Maria se niggie, het sy Maria self op 16 Junie by Wil­liams gaan aflaai.

Sophie vertel: “Sy het my gebel en gevra vir ’n lift Wellington toe oor sy ’n werk gekry het.

“Ek wou weet watse werk en by wie.

“Sy’t vir my gesê dat sy die man ontmoet het op die plaas waar sy voorheen gewerk het.

“Ek het haar toe by die Wellington-polisiestasie afgelaai waar sy hom moes kry.

“Ons het nog gesels, toe lui haar foon.

“Dit was Johan en ek het net gehoor hy sê: ‘Vandag nog, Maria.’

“Sy’t toe die foon neergesit en gesê hier kom die jong – hy gaan nou weer skel.

“Ek het toe gewonder hoekom hy dan sou skel, want sy kom dan vir ’n werk.

“Sy het Johan aan my voorgestel en my woorde aan hom was dat hy mooi na haar moet kyk.”

Sophie sê hierna het sy nooit weer met haar niggie gepraat nie, behalwe ’n paar geruilde boodskappe.

“Ek het ’n missed call van haar gekry. Nog voordat ek kon bel, het ’n boodskap gekom dat sy twee maande weggaan Touwsrivier toe.

“Sy het vir my geld gevra wat ek nie gehad het nie.

“Die 19de toe stuur Johan vir my ’n boodskap dat ek hom nie moet kontak nie oor sy vrou jaloers is.

“Daarna, wanneer ek vir Maria gebel het, het hy aanmekaar die foon opgetel. Dan is Maria in die shower en dan is sy besig.

“Toe ek weer bel, toe sê ek: ‘Ek hou aan totdat ek met Maria kan praat.’

“Hy sê toe kamstig: ‘Kom, Maria, kom praat met jou mense wat gaan met jou aan.’

“Hy sê toe Maria is hartseer en hy gaan ’n bakkie reël dat sy huis toe kom.”

Sophie sê iets het nie reg gevoel vir haar nie en sy het die polisie van Riebeek-Wes, Malmesbury en Touwsrivier gekontak.

Die Touwsrivier-polisie het ondersoek ingestel en ontdek die maatskappy waar Maria kastig werk, bestaan nie.

Daarna het die familie nie weer van die cops gehoor nie tot Woensdag, toe hulle die tyding gekry het.

Maria se antie Anna Nobangela sê oor Williams: “Hy het geen skaamte nie. Hy’t dan gelag en aangegaan.

“Toe hy agterkom ons is een van sy slagoffers se familie, het hy sy gesig weggedraai.”

Maria IsaacsFoto verskaf
Natalie Jonkers
los bos: Sophie Isaacs vertel gister wat sy weet.
ouers: Reuben en Clara Jonkers is die ouers van die vermoorde Natalie. Foto’s: PETER ABRAHAMS

Die familie sê hulle sal Maria se liggaam vandag uitken.

Sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig ’n ondersoek duur voort rondom die ontdekking van ’n ongeïdentifiseerde lyk op ’n plaas naby Wellington.

Williams verskyn vanoggend weer in die Wellington-landdroshof vir ’n interdik waarvoor sy girlfriend aansoek gedoen het.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters