Verlede maand
‘Cops dam my by met vuiste'
LOOP DEUR: Die sanger Vernotte Carolissen van Wolseley beweer twee cops het hom in die polisie-aanklagkantoor met hul vuiste toegetakel.  ~ Foto Verskaf

’N PLAASLIKE sanger van Wolseley beweer hy is die naweek deur die cops aangerand.

Die voorval het na bewering binne in die aanklagkantoor by die Wolseley-polisiestasie gebeur.

Vernotte Carolissen (53) vertel hy is nog erg getraumatiseer en dis die eerste keer dat so iets met hom gebeur.

’n Omgekrapte Carolissen sê: “Ek het my seun in die hoofstraat voor die slaghuis afgelaai.

“Ek het gewag vir ’n ander motor om uit te trek, sodat ek kan parkeer.

“Die cops het na my toe gekom en op my geskree.

“Hulle het liederlik gevloek oor ek in die pad staan.

“En hoe meer ek vir hulle verduidelik ek wag vir die ander motor om uit te trek, hoe minder wil hulle hoor.

“Ek het toe op ’n ander plek gaan parkeer, en daarna het ek na die cops gegaan om te vra hoekom hulle so onbeskof was.

“Hulle het weer op my begin vloek. My as ’n n**i uitgekryt en gesê hulle gaan my in my p**s skop.”

“Ek het na die polisiestasie gegaan om hulle te verkla.

“By die polisiestasie het die twee cops my met die vuiste bygekom en een het my om geklap.

“My seun wat buite gewag het, het ingehardloop gekom om my te help.

“My oog en lip was opgeswel. My ribbes is ook seer.”

Volgens Carolissen het die cops hom voor die kaptein uitgeskel en geen respek getoon nie.

Carolissen beweer die kaptein het niks gedoen om die polisielede te keer of hulle aangespreek nie.

Kapt. FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig. Volgens hom is ’n saak van aanranding geopen en na die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) verwys vir verdere ondersoek.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters