7 dae gelede
Cop sê toneel was sy ergste
ERG: Konst. Elfredo Lukas sê hy het in sy hele loopbaan nog nooit so ’n wrede moordtoneel gesien nie.  ~ Basil Davids

SWELLENDAM. – ’n Getuie in die Brian Mudyiwayana-moordsaak het baie nervous in die getuiebank kom getuig hoe hy op ’n bebloede liggaam afgekom het.

Konst. Elfredo Lukas het aan die hof gesê dat hy in November 2017 na ’n toneel op ’n plaas buite De Doorns uitgeroep is.

Volgens Lukas het die betrokke plaasboer gesê een van sy werkers het nie daai Maandag en ook nie die Dinsdag kom werk nie.

Lukas sê die boer het hulle toe na die plaaswerker, Michael­ Pikaan, se huis geneem en deur die venster geloer.

Volgens Lukas het die boer toe die plaaswag-eenheid geskakel.

“Toe hulle daar opdaag, het hulle die voordeur oopgebreek,” het Lukas verder getuig.

Hy sê toe hy in die slaapkamer kom, het hy ’n arm onder die bed sien uitsteek.

Wond

Toe hulle die bed eenkant toe stoot, het hulle op ’n erg bebloede lyk afgekom.

Langs die liggaam het ’n byl gelê.

Volgens Lukas was daar ’n oop wond aan die slagoffer se agterkop. Daar was bloed oral.

Die boer het ook na die liggaam gekyk en aan die polisie bevestig dat dit Pikaan is.

Lukas sê in sy lewe as polisieman was dit een van die wreedste tonele nóg wat hy moes aanskou.

“Ek kon duidelik sien dat die man vir sy lewe geveg het.”

Die cop sê dit het vir hom voorgekom asof die slagoffer beroof en daarna vermoor is.

Mudyiwayana se lawyer, Omar Arend, het aan die hof voorgehou dat sy kliënt sê hy kan nie vir Pikaan se moord aanspreeklik gehou moet word nie.

Arend sê op die dag van die moord het sy kliënt saam met ’n san­goma en ’n persoon bekend as Rasta per bakkie na Pikaan se blyplek getravel.

Volgens hom het hulle Pikaan se meubels gaan haal omdat hy nie sy ooreenkoms met die sangoma nagekom het nie.

Volgens die sangoma kon Pikaan nie die R10 000 betaal vir dienste wat hy aan hom gelewer het nie.

Weggery

Arend sê daar het toe ’n stryery ontstaan en Pikaan het ’n byl gaan haal en wou sy kliënt en Rasta daarmee kap.

Rasta het dit toe reggekry om die byl uit Pikaan se hande los te ruk en hy het Pikaan toe morsdood geslaan, het die beskuldigde by monde van sy lawyer aangevoer.

Rasta en Mudyiwayana het die huis toe saam verlaat, die deur toegesluit en weggery.

Mudyiwayana is maande ná die voorval op aanklag van moord in hegtenis geneem.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters