12 dae gelede
#KYK: ‘Patsy elders!’
Kleurvol: Edó Mostert (links) en sy gaste is opgedress vir die paartie. FOTO’s Verskaf  ~ 

DIE bors van ouers van Piketberg is warm oor mans ná ure in die skool se gange gepaartie het en party se onderklere te skraps was.

Edó Mostert (27), ’n plaaslike troufotograaf, het op 27 Julie sy verjaardagpartytjie by die hoërskool gehou. Dié gay man en sy vriende het in volle drag opgedaag.

Uitspoel

Die venue was nie die skoolsaal of die skool se klubhuis nie; dit was die skoolgebou self.

“Vir my Camp Magic themed­ partytjie was dit die perfekte venue. Met die beligting en als was dit net die gepaste plek.”

Mostert wil nie sy mond oor die gegriefde ouers uitspoel nie.

Hy bevestig die paartie was nog in volle gang toe die skoolhoof dit stopsit.

“Hy het nie geweet wat die inhoud van die partytjie sou wees nie.”

Mostert en sy gevolg het die skoolperseel sonder verdere omstredenheid verlaat en die paartie na ’n bar toe gevat. “Die mense daar was baie nice.”

Bekommerde ouers wat anoniem wil bly, sê hulle kan nie glo die hoof, Quinton Engelbrecht, kon vir só ’n partytjie toestemming gee nie.

Een ouer vertel: “Toe ons van die partytjie hoor, het ons die hoof dadelik in kennis gestel. Dis ’n groot bekommernis dat drank in die skoolgebou ingeneem is en mans halfnaak op die skoolterrein geloop het.”

Die ouers sê toe hulle die hoof hieroor aanvat, het hy gesê daar is niks fout daarmee om die skool te verhuur om geld in te kry nie.

Die ouer moan: “Al is daar ook geld betaal, maak dit dit steeds nie reg om binne die skoolgebou dronknes te hou nie.”

Engelbrecht gee toe hy het ’n oordeelsfout begaan toe hy ingestem het dat die verjaardagpartytjie daar gehou kan word.

Hy voeg by as hy vooraf geweet het wat die partytjie behels het, sou hy dit nie goedgekeur het nie.

Engelbrecht sê ook: “Die kwessie is reeds tussen die betrokke rolspelers opgelos.”

Verwyt

Die skoolhoof beklemtoon hy het nie die partytjie stopgesit omdat dit oor ’n sekere denominasie gegaan het nie.

“Dit het meer oor die kleredrag gegaan.”

Mostert verwyt niemand in die dorp omdat sy partytjie nie soos beplan verloop het nie.

“Ek weet ek woon in ’n klein dorpie en ek het gedink hulle sou meer open-minded wees.

“Maar ek verstaan ook hulle kommer.”

Hy sê as hy een kind wat nog in die kas is, kon bemoedig om uit te kom, was sy paartie ’n sukses.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters