10 dae gelede
Brand laat talle dakloos
Moet opdok: Saul Vlok sê die Drakenstein-munisipaliteit moet die huureenhede regmaak omdat hulle die wettige eienaars daarvan is.  ~ Peter Abrahams

VYF gesinne is dakloos gelaat en nog twee gesinne se huise het erge skade in ’n brand opgedoen.

In dié brand wat Dinsdagaand omstreeks 19:45 in Paarl-Oos uitgebreek het, het daar gelukkig niemand seergekry nie.

Volgens Godwill Malan, ’n gemeenskapsleier, kon almal hul geliefdes vinnig genoeg uit hul hokke en huise red.

Malan het aan Son gesê dit is nog nie duidelik hoe die brand ontstaan het nie en die Drakenstein-munisipaliteit moet in dié stadium nog ’n evaluering doen oor wat die moontlike oorsaak kon wees.

Volgens Malan is die 21 mense wie se huise afgebrand het, al meer as 25 jaar op die waglys.

Die inwoners wat in die hokke woon, het al 25 jaar gelede onwettig ’n stuk grond beset oor hulle nie behuising het nie, sê hy.

Malan vertel: “Ek voel baie jammer vir hierdie mense. Hulle gaan nie gehelp word nie.

“Sondag het daar ook vyf huise hier gebrand en daardie mense wag steeds op hulp van die munisipaliteit.

“Ek weet van mense wie se huis al laas jaar gebrand het en steeds is hul huise nog nie reggemaak nie.

“Van daai mense moes in tente gaan bly wat deur die munisipaliteit opgesit is.

“Van die huise wat nie reggemaak word nie, word demolish.”

Saul Vlok (70), ’n inwoner wie se huis in Dinsdag se brand beskadig is, sê dit is die Drakenstein-munisipaliteit se plig om die skade te herstel oor dit hul eiendom is.

Vlok, wat al in 1980 by sy flêt ingetrek het, sê dit is steeds nie sy eiendom nie. Hy woon vandag steeds met sy drie kinders en vyf kleinkinders in die huureenheid nadat sy vrou oor­lede is, sê hy.

Vlok vertel: “Hulle sal my plek moet regmaak. Ek het gehoor ander mense se plekke het ook gebrand en is nie reggemaak nie.

“Ek weet regtig nie wat hier gaan gebeur nie. Die plek sal nooit weer dieselfde wees nie.”

Opname

By Son se besoek was werkers van die Drakenstein-munisipaliteit besig om die kragboks reg te maak wat in die brand vernietig is.

Jacqui Samson, die uitvoerende direkteur van beplanning, ontwikkeling en menslike nedersettings vir die Drakenstein-munisipaliteit, bevestig ’n opname is gedoen en die brandslag­offers is wel op die waglys.

Samson sê die munisipaliteit het noodleniging aan die gesinne verskaf wat deur die brand geraak is.

Sy verduidelik: “Die toekenning van huureenhede en deelname in behuisingsprojekte word streng toegepas volgens die datum van die aansoek.

“Dit geskied binne die raamwerk van die munisipaliteit se toekennings­beleid om te verseker dat behuisingsaangeleenthede op ’n regverdige, deursigtige en billike manier toegepas word.”

Samson sê verder dat die munisipaliteit sy versekeringsmaatskappy versoek het om met die nodige proses te begin, asook om ’n assessor aan te stel om die brandskade en die oorsaak van die brand spoedig te kan bepaal.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters