Verlede maand
Brand eis beampte wat help
Nelio van Rooy  ~ Foto Verskaf

BARRYDALE is in rou nadat een van sy eie brandweermanne gesterf het terwyl hy en spanlede ’n brand bestry het.

Nelio van Rooy was lid van die Uitgebreide Openbare Werke-projek (EPWP) en het as brandweerman vir die Overberg Distriksmunisipaliteit in die Overberg-streek gewerk.

Van Rooy is een van drie brandweermanne wat beserings opgedoen het terwyl hulle ’n brand op die Masa­khane-berg in Franskraal bestry het.

Die brand het Sondagmiddag uitgebreek. Tydens die bestryding het een van die brandweermanne erge brandwonde opgedoen en ’n brandweerwa het ook uitgebrand.

Reinhard Geldenhuys, woordvoerder van die Overberg-distrik se brandweer, het bevestig Van Rooy het Sondag in die brand omgekom.

Geldenhuys sê op Facebook: “Dit is met groot hartseer en verlies dat ek julle in kennis moet stel van die EPWP-brandweerman Van Rooy van die Barrydale-stasie wat aan diens dood is.

“Van Rooy is dood terwyl hy ’n diens aan sy gemeenskap gelewer het. Rus sag, Nelio.

“Ons vat dit van hier af.”

Luidens ’n verslag van Lester Smith, brandweerhoof, is twee ander brandweermanne in die hospitaal opgeneem.

Volgens Smith sal albei in die hospitaal bly. Die een word onder observasie gehou en die ander een is behandel vir tweedegraadse brandwonde aan sy hande en arms.

Albei is in ’n algemene saal, sê Smith.

Vernietig

Luidens ’n verslag van die Groter Overberg Brandbestrydingsvereniging was die brand buite beheer toe hulle op die toneel opdaag. Hulle het toe hulp uit Hermanus gekry. Die vereniging sê die hulp van twee helikopters is ingeroep.

Die verslag lees verder: “Die brand het een voertuig heeltemal verwoes.

“Drie brandweermanne wat beseer is, het mediese hulp benodig en is na die Hermanus Mediclinic geneem. Die brand het ’n pomp heeltemal vernietig.

“Die brand is 30 keer met water gebombardeer met ’n omkeertyd van 3 minute.

“Die brand is later onder bedwang gebring en teen 17:00 was daar net een flare-up.”

Smith het bevestig hulle ondersoek die voorval.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters