4 dae gelede
Brand by munisipale gebou gou geblus
Stellenbosch Munisipaliteit
’n Brand het Sondagoggend by die Stellenbosch munisipaliteit uitgebreek.  ~ Facebook

OPRUIMINGS- en herstelwerk geskied tans by die Stellenbosch-munisipaliteit.

Dit volg nadat 'n brand vroeg Sondagoggend in die voorportaal van die munisipale gebou in Stellenbosch uitgebreek het.

Stuart Grobbelaar, 'n woordvoerder vir die munisipaliteit, sê die brand kon vinnig geblus word en die skade tot die voorportaal beperk.

"Die raadsaal, stadsaal en munisipale kantore is nie deur hierdie brand geraak nie."

Vanweë rookskade weens die brand en om te verseker dat die elektriese netwerk beskerm word het van die amptenare Maandag vanaf die huis gewerk.

Geen beserings is in die voorval aangemeld nie en geen gemene spel word vermoed nie.

Grobbelaar noem dat die ingang van die hoofgebou sal tot verdere kennisgewing gesluit wees.

"Daar is 'n alternatiewe ingang beskikbaar vir besoekers, deur die finansiesgebou in Ryneveldstraat.

"Inwoners word ook vriendelik versoek om sover moontlik die aanlyn en elektroniese kanale te gebruik om met die munisipaliteit kontak te maak."

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters