9 dae gelede
Botsing breek man in stukke
justice: Brandon Hein vertel wat met sy vriend gebeur het.Foto’s: George April  ~ 

CLANWILLIAM. – ’n Ma het gehoor ’n man het sy safety belt aangesit voordat hy haar seun teen ’n hoë spoed in stukke gery het.

Kuthu van Rooy soek geregtigheid vir haar seun, Garreth van Rooy (19).

“My kind is drie-uur die oggend op die R364, naby Vleiplaas, 30 km buite Clanwilliam omgery.

“Toe ek op die toneel kom, was hy reeds dood.

“Hy was die aand van 7 Januarie op pad huis toe nadat hy saam met die driver van die kar en vriende gekuier het.

“Garreth se liggaam was onherkenbaar vermink. Sy geslagsdele het in stukke langs hom gelê. Ons moes familielede weghou toe ons sy liggaam uitken.

“Sy galblaas was gebars, sy kakebeen gebreek, daar was ’n gat in sy borskas en van sy liggaamsdele was weg.

Garreth van Rooy FOTO’S VERSKAF

“Wat ek nie kan verstaan nie, is dat Garreth se Nike-tekkies langs mekaar by sy kop gelê het. Hy het ’n kraantjie wyn by hom gehad, en dit het in die middel van die pad gestaan,” vertel die gebroke ma.

Sy sê die driver, Noderick Carolus, se girlfriend was saam met hom toe die ongeluk gebeur het.

“Die jong was toegesluit en is op borgtog van R500 vrygelaat.”

Van Rooy vertel verder: “Daar is ’n video wat wys wat gebeur het. My arme kind het nog omgekyk voordat die kar hom getref het.

“My kind het sy skoolloopbaan in Saldanhabaai klaargemaak. Verlede jaar was sy eerste jaar dat hy vir my gewerk het.”

Brandon Hein (29), een van Garreth se vriende, het vir Son gaan wys waar hy doodgery is.

“Dis in die Cederberge naby Wuppertal, met geen siel binne sig nie.

Noderick Carolus

“Daar is CCTV-kameras langs die pad wat die ongeluk opgetel het,” het Hein vertel.

Hy het ook die kameras uitgewys.

“Die footage wys hoe Garreth van agter van die pad gestamp word.

“Die eienaar van die plaas­ het die footage aan die polisie oorhandig.”

Minder as ’n halwe kilometer vanaf die ongelukstoneel kan nog ’n kamera gesien word.

Dit dek ’n groot deel van die Cederberge.

Carolus het reeds drie maal in die hof verskyn. Hy kom weer Vrydag voor.

Kapt. FC Van Wyk, ’n woordvoerder van die polisie, het die voorval bevestig. Hy het ook gesê: “Die beskuldigde is aangekla vir strafbare manslag en verskyn in die Clanwilliam-hof.”

Volgens die woordvoerder is die ondersoek reeds afgehandel, maar die saak is uitgestel omdat die forensiese verslag oor die alkoholvlak in die bloed nog uitstaande is.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters