26 dae gelede
‘Boom breek ons huis op’
KOPSEER: Henry Wentzel sê dié boom besorg hulle slapelose nagte.  ~ Basil Davids

ROBERTSON. – ’n Boom hou ’n groot bedreiging in vir ’n gesin wie se huis uit die 1800’s dateer.

Die Wentzel-gesin moet met een oog oop slaap, want hulle is skytbang die huis se mure kan op hulle intuimel.

Ná vele briewe aan die raad van die Langeberg-munisipaliteit om iets drasties aan die boom te kom doen, het daar dadels van gekom.

Henry Wentzel, ’n voormalige voorman by die einste munisipaliteit, sê dinge ruk nou lelik handuit.

Opgemerk

Wentzel sê toe hy en sy gesin destyds by die huis ingetrek het, was alles nog hunky-dory.

Volgens Wentzel het hy op ’n dag opgemerk sy huis se mure begin kraak. Hy’t gewonder wat die krake kan veroorsaak.

“Ek het toe eendag agtergekom dis die wortels van die boom wat hier voor my huis staan wat begin om onder die huis se fondasie in te groei,” vertel Wentzel baie besorg.

Sy ewe bekommerde vrou, Maria, sê sy is baie angstig dat die huis se mure kan meegee.

Maria voeg by hulle is reeds te bang om voor op hul huis se stoep te sit, want daai mure hang nou al letterlik los.

“Ons vermaan onse kleinkinders om nie meer op die stoep te speel nie,” vertel Maria aan Son.

Volgens die egpaar het munisipale werkers al van die wortels kom verwyder, maar dit groei steeds tot onder die fondasie.

Fix

Die couple wil nie eintlik hê die hele boom moet weggemaak word nie; hulle wil net hê die owerhede moet die wortels stop wat die krake veroorsaak.

Wentzel sê die munisipaliteit het ook al die krake probeer fix, maar dit kraak net verder.

Son het die afgelope twee weke by die burgemeesterskantoor en dié se woordvoerder, Willy-John Gordon, oor die Wentzel-gesin se situasie navraag gedoen.

Niemand het egter nog kommentaar gelewer nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters