Verlede maand
Boer, seun in hof
ONTEVREDE: Mense betoog gister buite die landdroshof in Murraysburg.  ~ Foto Verskaf

MURRAYSBURG. – Omgekrapte bewoners van ’n plaas naby Beaufort-Wes het gister buite die landdroshof betoog.

’n Plaasboer en sy seun, Karel en Ludwig van Heerden, het op ’n klag van aanranding verskyn.

Die vermeende slagoffer is ’n plaaswerker. Dié plaaswerker, Anthony Koopman, is na bewering daarvan beskuldig dat hy die Van Heerdens se skape gesteel het.

Die Van Heerdens is gearresteer nadat Koopman ’n aanrandingsaak geopen het.

Hulle het drie dae in die selle geslaap en is toe op borgtog van R1 000 elk vrygelaat.

Die beweerde voorval het in Februarie gebeur.

Die Van Heerdens het gister weer in Murraysburg se landdroshof voorgekom.

Neville van Rooy, ’n aktivis van die dorp, is ongelukkig oor die borgtog.

Van Rooy sê: “Die voorval het al in Februariemaand plaasgevind.

“Die plaaswerker was op sy fiets en het van plaas tot plaas gery op soek na werk.

“Hy het ’n paar keer gestop oor hy gesukkel het met sy fiets.

“Tydens een van die stoppe het die plaasboer en sy seun agter ’n bos te voorskyn gekom.

“Hy het Koopman daarvan beskuldig dat hy sy skape steel en slag.”

Volgens Van Rooy het die boer en sy seun die plaaswerker met ’n gun aangerand en hom in die gesig, nek en sy daarmee geslaan.

Die plaaswerker is na bewering ook gedreig dat hy met die plaasbakkie omgery sal word.

Koopman is met die agterkant van die gun bewusteloos geslaan, word beweer.

Hy het in die George-hospitaal wakker geword.

Geskiet

Koopman het beserings aan sy gesig opgedoen en was baie geswel.

Hy kry ook nou epileptiese aanvalle, wat hy nooit voorheen gekry het nie.

Volgens Van Rooy is dit die derde voorval in hul gebied waar ’n plaaswerker met ’n gun gedreig word.

Hy beweer in ’n ander voorval is ’n plaaswerker se seun in die voet geskiet oor sy hond van die boer se vee doodgebyt het.

Die hond is na bewering voor die seun van kant gemaak.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters