27 dae gelede
Boer ondervra oor plaasmoord
Rou: Annie Fortuin is steeds verpletter deur Duane, haar seun, se vreeslike en ontydige dood.  ~ Basil Davids

ASHTON. – ’n Moordklag staar ’n plaasboer van hier in die gesig ná die dood van ’n plaaswerker.

Die aanklag teen die boer is dié week van ernstige aanranding na moord verander.

Kapt. Jeff Lekay, stasie­bevelvoerder van die Ashton cop shop, het dit gister aan Son bevestig.

“Ons het nog nie ’n arrestasie gedoen nie. Ons doen eers volledige ondersoeke voordat enige arrestasie gedoen kan word,” het Lekay verduidelik.

Uitgewys

Son het vroeër berig hoe Duane Fortuin (29) op die Stormsvlei-pad vir dood agtergelaat is.

Hy het Vrydag in die Tygerberg Hospitaal aan sy wonde beswyk.

Volgens Duane se mammie, Annie, het haar seun sy vermeende moordenaar geken. Hy het hom voor sy dood uitgewys.

Die polisie is ook hiervan in kennis gestel.

Volgens Lekay ondervra die ondersoekbeamptes die vermeende moordenaar in dié stadium.

Duane en sy tjommie Ni­shaan Fredericks (30) wou glo op ’n plaas buite die dorp teerpale gaan steel toe hulle op heterdaad betrap is.

Volgens Fredericks het hy en Duane weggehol, maar die boer het hulle beveel om stil te staan of hy gaan op hulle skiet.

Fredericks het vertel hy’t gesien hoe die boer ’n gun uitpluk en kort daarna het Duane neergeval.

Fredericks sê hy het toe van die plaas af weggehol en hy weet nie wat verder met Duane gebeur het nie.

Duane se ma het vertel hoe mense op hom afgekom het.

Sy sê sy verneem by die speurders die plaaswerkers het op Duane afgekom die dag nadat hy as vermis aangemeld is.

Duane is tussen die digte bosse op ’n verlate plek langs die Stormsvlei-pad gevind.

Volgens die ma het die cops vertel Duane was in daardie stadium bewusteloos.

Daar word vermoed die persoon verantwoordelik vir Duane se verdwyning het hom sommer net gaan dump waar hy in sy eensaamheid moes doodgaan.

“Ek verneem my kind het in ’n plas bloed gelê toe die werkers op hom afgekom het,” het Annie hartseer oor Duane gesê.

Volgens haar is die polisie en die ambulans ontbied.

Die ma sê Duane is per helikopter na ’n hospitaal gevlieg waar die dokters ’n noodoperasie op hom uitgevoer het.

Geslaan

Hy het ernstige breinskade opgedoen.

Sy aanvaller het hom na bewering met ’n stomp voorwerp oor die kop geslaan.

Die familie is steeds verpletter en hoop net reg en geregtigheid sal geskied.

Son ken die naam van die plaasboer wat van die moord verdink word, maar mag dit weens regsredes nog nie verstrek nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters