5 dae gelede
Boelie-skoppe: pa polisie toe
BESKERMEND: Manvideo en Machiano Johnson vertel hulle het ’n hegte band.  ~ Foto Verskaf

STANFORD. – ’n Pa is diep teleurgesteld in die manier hoe Die Bron Primêr sy seun se boelie- voorval hanteer het.

Manvideo Johnson vertel sy enigste seun is op 31 Julie by die skool geboelie en in die verleentheid gebring.

Die 44-jarige pa sê hy is nie tevrede met hoe die skool nie net die aanranding nie, maar ook wat gevolg het, benader het.

“Ek was by die werk toe een van my kollegas my inlig dat die skool my soek omdat Machiano (13) siek geraak het. Toe ek by die skool kom, kry ek my seun op die grond lê in een van die kantore, omring deur ’n paar onderwysers en leerders.

“Ek was so geskok en kon nie glo wat ek sien nie. In daai stadium het niemand my nog ingelig dat hy aangerand was nie.

“Hy is epilepties en ek jaag toe met hom na die Medi­clinic in Hermanus toe omdat hy daar ’n dokter sien,” vertel hy.

Hy voeg by daar is ’n kliniek binne ’n kilometer van die skool af en dat nie een van die skool se personeellede dit goed gedink het om sy seun daarheen te neem nie. Nog iets wat Manvideo ontstel, is dat leerders hom met sy seun na die kar moes help. Dít alles terwyl Machiano nog aanvalle kry.

Manvideo is ook in besit van ’n video van aanranding wat die skool se sekuriteitskameras opgeneem het.

Machiano was ’n prema­ture baba en is epilepties sedert tweejarige ouderdom.

Volgens Manvideo was die aanvalle stil omdat Machiano op medikasie is, maar die vier dae ná die aanranding het hy epileptiese aanvalle gekry wat tot ’n uur geduur het.

Machiano het tot 3 September in die hospitaal gebly en sedert hy ontslaan is, ervaar hy erge hoofpyne en is op sterker medikasie geplaas.

Die gr. 5-leerder het ook matige tot ernstige bilaterale sensorineurale gehoorverlies, waarvoor hy ’n gehoortoestel vir spraakherkenning benodig.

Die toestel, wat nagenoeg R30 000 kos, is ook in die aanranding beskadig. Klagte van aanranding en opsetlike saakbeskadiging is by die Standford-polisiestasie gelê.

Volgens Machiano het hy en sy maats gespeel toe die boelie op hom neersak.

“Dit was tydens pouse en ek het sokker gespeel.

“Hy het net gekom en my omgestoot en begin skop.

“Ek kan nie verder onthou nie, want toe is ek uit.”

Bewusteloos

Hy voeg by die seuns saam met wie hy sokker gespeel het, kan bevestig dat hy nie die boelie aangespoor het nie. Machiano is twee keer teen die kop geskop en een keer daarteen getrap.

Hy het ook ’n skop in die maag gekry, waarna hy bewusteloos op die toneel geraak het.

Manvideo vertel sy seun ken nie van geweld nie en was nog nie voorheen by so ’n voorval betrokke nie.

“Hy is ontslaan, maar nog nie terug by die skool nie as gevolg van die hoofpyn.

“Sy hearing aid is uit sy oor geskop en dit is meer as R28 000 vir ’n nuwe toestel.”

Kol. Andrè Traut, polisiewoordvoerder, bevestig die Stanford-polisie ondersoek die saak.

Stappe

“Sodra die ondersoek afgehandel is, sal die saak na die kantoor van die senior staatsaanklaer verwys word vir ’n besluit,” sê hy.

Millicent Merton, woordvoerder vir die WKOD, het die voorval bevestig.

“Die skoolhoof het die leerder se ouers dadelik gekontak waarna sy pa hom na ’n privaat hospitaal geneem het.

“Die skool het dissiplinêre stappe teen die ander leerder gedoen ingevolge hul gedragskode.

“Die ouers het ook die skool ingelig dat hulle die voorval by die SAPD sal aanmeld. Die skool het die distrikskantoor oor die voorval ingelig.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters