3 maande gelede
Blou ná cop-nado
eina! Gareth Klaaste (links) sit by Terswin Sauls en Neil Gelderbloem, wat wys hoe hulle beseer is. Hulle beweer polisielede het hulle so aangerand.  ~ 

SARON. – Wat veronderstel was om ’n gewone drug bust te wees, het glo in ’n orgie van aanranding ontaard toe vreemde cops ’n spoor van geweld agtergelaat het.

Daar word beweer aksiemal lede van die polisiëringseenheid vir openbare orde (Pop) het Saterdagaand verskeie mense aangerand en een ontvoer.

Een ou het na bewering so erg deurgeloop, hy moes hospitaalbehandeling ontvang nadat hy ontsnap het.

Nóg een moes 10 steke aan sy kop kry omdat hy na bewering nie sy hek se sleutels by hom gehad het nie.

Intussen beweer drie Rastavriende die cops het hulle gestop terwyl hulle op pad was na ’n troue.

Gareth Klaaste (38) vertel: “Dit was rondom 20:00 toe die cops ons uit my kar pluk.

“Hulle sê toe hulle is op pad na my huis toe. Daar was omtrent 15 polisie-vêns.

“Hulle kry toe ‘n bietjie ganja by my vriend Terswin, net ’n bietjie meer as twee stoppe, en laai hom in die vên. Toe beskadig hulle ook sommer my kar.

“Hulle wys my toe ’n lasbrief en gaan visenteer toe my huis, maar kry niks.”

Die cops is toe na Neil Gelderbloem (38) se huis.

Hy kla: “Hulle slaan my toe onnodig met ’n besemstok. My lyf is vol kneusplekke. Toe ek hulle vra waar die R2 500 is wat op my bedkassie was, klap die een cop my amper flou en gee my net R1 000 terug.

“Die ander beamptes het intussen die pool-tafel en jukebox in my game shop flenters geslaan en ál die geld uitgehaal. Hulle het balaklawas opgehad.”

Terswin Sauls het die grootste nagmerrie beleef. Klaaste en Gelderbloem is Sondag­oggend cop shop toe om uit te vind waar Sauls (29) is.

Niemand kon vir hulle sê wat van hom geword het nie.

Sondag 12:00 het Sauls in ’n gehawende toestand by sy twee vriende opgedaag.

Hy het Son só van sy ordeal vertel: “Die cop ry toe met my uit die dorp uit. My hande was met cable ties agter my rug vasgemaak.

“Hy laat my toe op my maag lê, sny die ties los en sê ek moenie opkyk voordat hy weg is nie.

“Ek sien toe ’n pad en loop tot by ’n brug. Dis toe ek Kuilsrivier se bord sien dat ek besef ek is op die R300-snelweg. Ek was meer as 100 km van my huis af.

Bendelede

“Drie ouens kom toe onder die brug uit en ek vertel hulle toe wat gebeur het. Hulle gee my toe ’n matras om op te slaap en ’n kombers.

“Ek het die volgende oggend uitgevind hulle is 28-bendelede.

“Die een het saam met my gestap tot by Stikland-stasie, waar ek ’n trein tot in Wellington gehaal het.”

Een van twee plaaslike polisiebeamptes wat die vorige aand na bewering by was, het later glo daar opgedaag om verskoning te vra vir die polisie se optrede.

Kapt. Lillian Patience, bevelvoerder van die polisie in Saron, beskou die bewerings in ’n ernstige lig.

Sy het gesê die voorval sal nou ondersoek word deur die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod).

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters