Verlede maand
Betoog vir basics

’N BAKLEIERY oor water en krag het onlangs in die Swartland-munisipaliteit uitgebreek.

Inwoners van die Riverlands-, Chatsworth- en Silvertown-gemeenskappe het vir drie dae hul griewe pad toe gevat.

Hulle moan oor basiese dienste. Tydens die protesaksie het hulle tyres gebrand en klip gegooi.

Terwyl dinge nie so goed tussen inwoners van Chatsworth en Silvertown geëindig het nie, het inwoners van Riverlands aangegaan om vir “hul regte” te baklei.

Oswin Stringer (38), ’n inwoner van Riverlands, sê toe hulle van hul bure in Silver­town se klagtes hoor, het hulle besluit dat hulle lank genoeg op leë beloftes gewag het.

Stringer vertel dat hulle al jare wag op ’n antwoord oor krag en water.

“Ons is soos ’n verlate dorpie wat almal vergeet het en nie meer van weet nie.”

Volgens Stringer het hulle ook net een watertenk. Dit moet vir die hele gemeenskap gebruik word.

“Daai een tenk is nou leeg en ons wag al hoe lank om weer water te kry.”

Adelaide Kay (73), sover bekend die oudste inwoner, sê sy onthou nog hoe hulle in 1994 vir krag en water begin baklei het. “Ons kyk al jare met lang oë af in die pad en wag vir die lig, maar ons lewe in die donkerte.”

Haar buurvrou Anetta Mauritz (63) stem saam. Sy sê sy onthou ook hoe hulle vir basiese dienste baklei het.

“Ek het van 9 of 10 jaar oud begin hout aandra en ek doen dit steeds.

“Hier woon ons nog soos in die verlede. Ek kook op ’n vuur, my wasgoed moet met die hand gewas word en jy lewe met ’n kers.”

Mauritz voeg by dat sy elke oggend halfvyf moet opstaan net om seker te maak dat die kleintjies pap kan eet. “Hout is free, maar jy moet dit aandra en die vuur nog maak.

Bekommernis

“Die probleem is ons het nie eens geld vir kerse nie, want ’n kers is R5 en hoeveel kerse makeer jy elke dag?”

Hier is die inwoners se bekommernis meer as net Covid-19, vertel Arend “Oom Bokkie” Hendrix (72).

Volgens Hendrix kan hy skaars onthou wanneer laas hy lekker gelewe het. Hy sê in klein dorpies is die lewe is baie swaar.

Madelaine Terblanche, ’n woordvoerder van die Swartland-munisipaliteit, bevestig die betogings en verduidelik dat dit tussen inwoners van Silvertown en Chatsworth gewelddadig geraak het. Dit het gelei tot die woelinge in Riverlands.

“Daar is bewerings dat dié inwoners teen die Silver­town-inwoners se eise vir basiese dienste is.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters