25 dae gelede
Been daarmee heen oor klip
EINA! Ouma Katriena Willemse sê sy kan nou weens haar besering nie vir haar gesin sorg nie.  ~ Enrico Claassen

WORCESTER. – ’n Werkende ouma van hier sukkel om die pot vir haar en haar gestremde kind en kleinkind aan die roer te hou.

Dít ná ’n fratsongeluk waarin ’n klip haar been getref en gebreek het. Die klip het onder ’n verbygaande trok uitgeskiet.

By Son se besoek aan Katriena Willemse (66) se wendyhuis in Avian Park het sy nog gekreun van die pyn.

Haar regterbeen is op twee plekke tussen haar enkel en knie gebreek.

Willemse vertel sy was op 12 September omstreeks 11:00 op pad na vriende toe die trok op die grondpad verby haar gery het.

“Die oomblik toe die trok verby is, het ek net ’n slag gehoor,” sê sy. ’n Klip het van onder die trok uitskiet en haar teen haar regterbeen getref.

Volgens Willemse het sy op die grond neergeval en uitgepass. Sy sê sy was ’n goeie tydjie lights out.

Toe sy eindelik haar bewussyn herwin, het sy ’n klomp mense om haar sien saamdrom.

Volgens haar het sy snot en trane gehuil weens die erge pyn in haar regterbeen.

Die ouma sê daar was ’n groot knop op haar been en bloed het uit haar mond uit gestroom.

Volgens haar het lede van die gemeenskap ’n kombers oor haar gegooi terwyl sy hulpeloos in die stofpad gelê het.

Sy sê sy het by omstanders verneem die driver van die trok het ná die ongeluk uit die voertuig geklim, na haar toe aangestap en ondersoek ingestel.

Volgens haar het omstanders haar meegedeel die driver het gesê hy gaan die ambulans bel.

Willemse sê sy is dieselfde dag nog in die plaaslike hospitaal opgeneem. Die next dag is sy geopereer.

Volgens haar is ’n ysterpen in haar beseerde been gesit en sy is die dag daarna ontslaan.

Sy doen huishulpwerk om te sorg vir haar dogter, Desireé­ Willemse (44), en dié se seun, Francois (23), wat albei verlam is.

Die ouma sê sy sit nou sonder daardie inkomste­ omdat sy nie nou met die besering en die pyn kan werk nie.

Volgens haar het Desireé in 2014 ’n beroerte­ gehad. Francois het in 2019 óók ’n beroerte­ gehad.

’n Hartseer Katriena sê Francois se beroerte het gekom nadat haar huis afgebrand het. Hy en sy ma het saam met haar in die huis gewoon. ’n Familielid met wie hy close was, het in die brand gesterf.

Breinskade

Sy skryf Francois se stroke­ toe aan die trauma van die brand, asook die familielid se dood. Volgens Katriena het Francois buiten sy verlamming ook breinskade opgedoen.

Katriena sê net Desireé kry ’n disability grant. Volgens die ouma moet sy nog om ’n nuwe ID vir Francois aansoek doen omdat sy ID in die brand daarmee heen is.

Katriena se broer, Jannie Biegenaar (48), se girlfriend, Maria Lukas (36), sien nou na haar, Desireé en Francois om.

Katriena sê sy wil net terugkeer werk toe sodat sy net weer vir haar gesin kan sorg.

JP Myburg, munisipale woordvoerder, sê by navraag die Breedevallei-munisipaliteit neem sake soos hierdie baie ernstig op.

Volgens hom het hierdie aantygings vir die eerste keer onder die munisipaliteit se aandag gekom toe daar navraag oor die voorval gedoen is.

Hy sê die voorval is glad nie by die munisipaliteit of by enige departement aangemeld wat gemoeid is met die hantering van sulke sake nie.

Myburg sê negatiewe ondervindings soos hierdie is nogal seldsaam, maar die munisipaliteit altyd die nodige stappe doen en probeer om enige foute reg te stel.

Hy verduidelik in dié geval was dit nie ’n munisipale trok self nie.

Rolspelers

Soos die munisipaliteit verstaan, het ’n maat­skappyvoertuig wat op ’n kontrakbasis vir die munisipaliteit­ diens doen, op ’n pad gery toe ’n klip na die slagoffer geskiet het.

Hy sê die munisipaliteit weet nou van die situasie en sal met ál die betrokke rolspelers in gesprek tree.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters