3 maande gelede
Bakkie ry twee susters dood
Mammie: Mieta du Preez vertel van haar twee meisiekinders.Foto: Basil DAVIDS  ~ 

ASHTON. – Twee susters is Sondagmiddag in die pad doodgery.

Katriena (30) en Janita du Preez (28) was op pad na ’n smokkelhuis om vir hulle wyn te gaan koop.

Een van die susters se laitie, John du Preez (10), het net betyds uit die pad gespring, anders het die bakkie hom ook getref.

Hulle ouers, Mieta en Piet du Preez, was gister in trane toe hulle hieroor praat.

“Hulle het Sondagoggend nog gesellig hier gesit en bitter bier drink,” vertel Mieta.

Piet sê toe hulle drank opraak, het Katriena, Janita en die klonkie besluit om nog twee kanne wyn te gaan koop.

Mieta sê die twee susters en die klonkie het in die pad terug­geloop.

Mieta vertel: “’n Wit bakkie het hulle twee getref, maar die klonkie was baie gelukkig.

Mis

“Hy het toe in trane hier by die huis ingehardloop en gesê sy ma en Janita is morsdood gery.”

Piet sê hy gaan sy kinders baie mis.

“John moet nou sonder sy ma grootword,” sê Mieta.

AO Sylvester Joseph, ’n polisiewoordvoerder, sê ’n saak van strafbare manslag word ondersoek.

  • In ’n onverwante voorval het ’n jong rugbyspeler ook Maandagoggend in ’n ongeluk omgekom.

Bradley Vermeulen (27), wat tot onlangs nog vir Villagers Worces­ter uitgedraf het, het gehike toe ’n motoris hom op die Bonnievale-pad opgelaai het.

Emosionele familielede van vermeulen vertel dat hy op pad werk toe was toe die onbekende man hom oplaai.

Die bestuurder het egter beheer oor die bakkie verloor en dit het omgeslaan. Hy het oorleef, maar Vermeulen is op slag dood.

Twee ander mans wat agterop die bakkie gesit het, is met ernstige beserings na die Robertson-hospitaal vervoer.

Vermeulen het hom sowat ’n maand gelede by die Robertson Town-rugbyklub aangesluit.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters