6 dae gelede
Bainskloof: Carl kom op vir sy mammie
Nie haar skuld: Carl Smit sê sy ma, Sarie de Villiers, was in ’n ongeluk betrokke omdat die pad op die Bainskloofpas baie sleg is.  ~ Peter Abrahams

SY KAN niks onthou nie.

Só sê Carl Smit, die seun van Sarie de Villiers, wat saam met haar agterkleinkinders in ’n ongeluk op die Bainskloofpas betrokke was.

Ál drie Carl se kleinkinders, Cayleb (7), Gradwill (4) en Joshua Smit (1), het Saterdag in die tragiese ongeluk gesterf.

Sarie se wit Chevrolet het 80 m na benede in die pas afgetuimel.

Cayleb en Gradwill het uit die kar geval terwyl Sarie en klein Joshua steeds in die kar vasgekeer was.

Joshua is egter die enigste een van die kinders wat nog saam met sy ouma lewend was, maar hy het later aan sy wonde beswyk.

Volgens Carl is sy ma se ribbes gebreek en sy is uit die waakeenheid van die Tygerberg-hospitaal ontslaan. Sy is intussen na die provinsiale hospitaal in die Paarl oorgeplaas waar sy verder behandel sal word, sê hy.

’n Hartseer Carl het aan Son vertel hoe moeilik dit vir hulle as familie was om gister sy drie kleinkinders se lykies uit te ken.

Hy vertel: “Ons het die drie lykies uitgeken en dit was maar baie swaar.

“Ons weet nie presies watter beserings hulle opgedoen het nie, want die forensiese mense mag nie vir ons sê nie.

“Al wat ons weet, is dat hulle inwendige beserings opgedoen het.

“My ma praat saam met ons, maar sy onthou niks van die ongeluk nie.

“Ons het nog niks vir haar van die kinders gesê nie, want die dokters het gesê ons moet liewer niks sê nie.

“Ons sal maar op ’n ander manier probeer om haar te vertel.”

Volgens Carl beplan die familie­ om Vrydag en Saterdag vir Cayleb, Gradwill én Joshua Smit ordentlik tot siens te sê.

Hy sê dat hulle drie verskillende seremonies gaan hou waarvan een op die plek gehou sal word waar die drie hul laaste asem uitgeblaas het.

Carl verduidelik: “Ons is tans besig met begrafnis­reëlings en beplan om hulle Saterdag te begrawe.

“Vrydag omstreeks 09:30 sal ’n gedenkdiens vir hulle by die skool gehou word.

“Daarna sal ’n kranslegging gehou word op die plek waar hulle afgesterf het.

“Saterdag sal ons ’n diens by die huis hou en dan sal hul kissies ingebring word sodat ons afskeid van hulle kan neem.

“Daarna sal hul lykies weer na die lykhuis geneem word waar ’n privaat verassing gedoen sal word.”

Nonsens

Carl het aan Son gesê daar een ding is wat hy duidelik wil maak en dit is dat sy ma nié dwarsdeur die boom gery het soos die padwerkers beweer nie.

Hy vaar uit: “Daai stop and go is 500 m uitmekaar. Hulle sê dat my ma gejaag het, maar dis klomp nonsens. Jy kan nie jaag op daardie pad nie. Daar’s geen manier nie! Ek het daai pad gery en ek het bang-bang 40 km/h gery.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters