3 maande gelede
Backyarders eis blyplek
VERENIG: Backyarders van Cloetesville en Idasvallei eis laekoste-behuising van die munisipaliteit.Foto: PETER ABRAHAMS  ~ 

STELLENBOSCH. – Die munisipaliteit hier is versoek om die moontlikheid van noodbehuising vir backyard dwellers in Idasvallei te ondersoek.

Dít volg nadat ’n groep gatvol inwoners en backyarders van Cloetesville en Idasvallei vreedsaam opgeruk het na die munisipale kantore.

Die voorsitter van Idasvallei se behuisingskomitee, Vinton Morgan, sê die gemeenskap kort ’n nood­behuisingsplan.

’n Vergadering daaroor is verlede week gehou.

Nyaniso Jindela, onderburgemeester, Geraldine Mettler, munisipale bestuurder, Tabiso Mfeya, direkteur vir beplanning en ekonomiese ontwikkeling en Chris Nissen, voorsitter van die Menseregtekommissie in die Wes-Kaap, het dit bygewoon.

Die munisipaliteit se kommunikasiebestuurder, Stuart Grobbelaar, het ingestem om met verskeie komitees, soos die Backyarders’ Forum en Idas Valley Housing Forum, te vergader.

Grobbelaar sê die munisipaliteit sal die voorsiening van laekoste-behuising oorweeg en ’n tydlyn bied van die vordering daarvan.

Verbind

Hy sê: “Die forums sal ’n lys van moontlike begunstigdes aan die munisipaliteit voorlê en die munisipaliteit sal dit dan vergelyk met sy behuisingswaglys.”

Grobbelaar voeg by die munisipaliteit is ook versoek om die Breaking New Ground (BNG)-komponent van sy behuisingsprojek uit te brei.

Hy sê: “Die munisipaliteit bly verbind tot konstruktiewe en positiewe samewerking met alle rolspelers.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters