4 maande gelede
Baby killer kry 25 j.
Moordenaar: Reginald Bezuidenhout mang nou vir die moord op klein Elrique Minnaar.  ~ 

HY IS nooit die kans gegun om die woord “mammie” te sê nie.

Sy moordenaar kan eendag weer vry wees, maar hy is vir ewig weggeruk van sy familie.

Só vertel ’n bitter hartseer Ilana Minnaar nadat haar eks-boyfriend haar 18 maande oue seun, Elrique, in haar huis in Worcester vermoor het.

Reginald Bezuidenhout is Maandag in die Kaapse hooggeregshof tot 25 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan die moord op die laitie.

Aggressief

“Hy verdien om te vrot vir wat hy aan my kind gedoen het,” het ’n emosionele Minnaar gister aan Son vertel.

Sy het nooit gedink die man met wie sy sowat ses maande in ’n verhouding was, sou so iets aan hulle doen nie.

“Hy was nooit aggressief teenoor my of enige van my drie kinders nie.

“Ek het gedink hy is ’n goeie mens, maar hy het my baie seergemaak deur my kind te vermoor.”

Elrique het ’n gekraakte skedel, gebreekte ribbes en kneusplekke oral op sy gesig en liggaam gehad.

Bezuidenhout het dié beserings op 9 September 2018 aan Elrique toegedien.

Volgens Minnaar het sy daardie Sondagoggend vroeg opgestaan en gegaan na ’n vriendin wat naby haar woon.

Bezuidenhout was alleen in haar kamer terwyl El­rique by sy ouma in nog ’n kamer in die huis was.

“Hy het die kind by my ma gaan haal en na my kamer geneem. Dit is waar hy my kind aangerand het terwyl die musiek kliphard in die voorkamer gespeel het omdat my niggie besig was om skoon te maak,” het Minnaar verduidelik.

“Niemand het gehoor wat in die kamer aangaan nie omdat die musiek gespeel het.”

Sy het gesê haar ander seun het haar gaan roep en gesê sy moet huis toe kom.

“Toe ek by die huis ingaan, het Reginald met die kind by die kamer uitgehardloop en gesê die kind het geval. Ek het die kind gevat en probeer CPR doen.”

Sy het gesê Bezuidenhout het Elrique opgetel en met hom daar uitgehardloop en na die hospitaal gejaag.

“Hy het ’n lift gekry met mense wat van die kerk af gekom het. Hy het nie eens vir my gewag nie. Ek is wel agterna hospitaal toe, waar my kind breindood verklaar is.”

Die mammie vertel Elrique se kop was geswel, sy lewer het gebars en sy ribbes was gebreek.

“Volgens die patoloog is daar op sy kop getrap en gedruk. Hy kon dalk ook die kind teen die muur geslaan het en het hom ook aan sy middellyf gedruk.”

Sy het gesê sy het nooit besef Bezuidenhout het slegte gedagtes teenoor haar kind gehad en sou sy dood veroorsaak nie.

“Hy is self ’n pa. Hy het ’n goeie werk gehad. Daar was niks in sy houding wat my laat dink het hy is tot dít in staat nie.”

Wat haar nog hartseerder maak, is dat Bezuidenhout in die hof geglimlag het terwyl hy gevonnis is.

Dankbaar

“Hy voel niks vir my of my kinders nie. Die ergste is dat ek nie sal weet wat die rede is waarom hy dit gedoen het nie.”

Die jong ma is dankbaar teenoor sers. Revah Readien en konst. Johan Saayman, die speurders wat vir justice vir haar spontane en energieke kind geveg het.

“Hulle het gou aan die werk gespring, die saak baie gou opgelos en justice vir my en my kind gebring.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters