14 dae gelede
Baas steek hom in rug, sê ou
MOERIG: Inwoners het opgeruk na Marius Cronjé se winkel om hul ontevredenheid oor die beweerde voorval uit te spreek.  ~ Kallie Smit

PORTERVILLE. – Die hoofstraat hier was Sondag in rep en roer toe hordes betogers op ’n winkel toegesak het.

Marius Cronjé, eienaar van OK Foods, is sedert Vrydag deur die polisie gesoek vir die beweerde aanranding van ’n werknemer.

Marcellis Swartz (30) was Donderdag besig om voorraad uit die stoorkamer op ’n trollie die winkel in te neem toe Cronjé hom na bewering aangerand het.

Hy vertel: “Ek het die trollie langs ’n koelkas laat staan en is toe weer terug by die stoorkamer in oor ek iets vergeet het.

“Toe ek terugkom, wou Marius weet hoekom ek die trollie in die mense se pad laat staan.

“Hy vaar toe vreeslik teenoor my uit voor die klante.

Gelag

“Dit het my baie ongemaklik laat voel en ek kon sien dat hy my uitlok om op sy uitbarsting te reageer.

“Ek het my maar be­teuel sodat hy niks teen my kon hou nie.

“Ek het toe net gelag en weggestap. Hy gryp my toe van agter af en steek my in my rug.

“Ek het gedink dit was met ’n pen, maar ek het later uitgevind dat dit met ’n bos sleutels was.”

Almal met wie Son oor die voorval gepraat het, het vertel dat Swartz ’n baie ordentlike en stil ou is.

Swartz het Vrydag ’n klag van aanranding by die polisie aanhangig gemaak. Hy moes hospitaalbehandeling vir sy beserings kry.

Die aanranding van Swartz het wyd opslae gemaak en baie aandag op Facebook gekry.

Inwoners was woedend oor dit glo nie die eerste keer is dat Cronjé so teenoor sy werkers optree nie.

Die winkel is Sondag ná 10:00 gesluit en swaargewapende sekerheidswagte het buite rondgestaan. Cops wat op patrollie was, het vir Son gesê hulle is op soek na Cronjé.

Cronjé het toe wel gisteroggend in die Paarl-landdroshof verskyn op aanklag van aanranding. Hy is vrygelaat op R1 000 borgtog en moet weer op 1 April in die hof verskyn.

Son is in besit van ’n kennisgewing van ’n dissiplinêre verhoor wat Cronjé intussen aan Swartz uitgereik het.

Die klagte teen hom is growwe wangedrag, dat hy die eienaar gedreig het en dat hy die besigheid van die eienaar ontwrig het deur die opstoking van die gemeenskap.

OK Foods se handelsmerkbestuurder, Clive Wood, sê hulle is bewus van die voorval. Volgens hom is hulle besig om alle inligting in te win en die voorval te bekyk, waarna hulle in ’n posisie sal wees om kommentaar te lewer.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters