2 maande gelede
Antie sorg vir enigeeen
Omgee: Doreen Fredericks by van die kinders wat sy op Mandeladag getreat het.  ~ Verskaf

RIEBEEK-WES. – Haar kinders moet soms met minder tevrede wees sodat sy ander kan help.

Doreen Fredericks (57) gebruik al langer as ’n jaar haar inkomste om ’n bord kos in mense se hande te sit wat dit nodig het.

Fredericks se twee kinders moes in April verlede jaar voorgestel word, maar met die Covid-19-situasie kon dit nie gebeur nie.

Toe besluit sy om die R 6 500 wat sy vir dié voorstelling gebêre het, vir ’n goeie doel te gebruik en ’n sopkombuis te begin.

Dié enkelma gee nou twee keer per week vir meer as 200 mense op ’n slag iets om te eet.

Hoewel haar sopkombuis nie oor naweke oop is nie, het Fredericks besluit om die mense op Mandeladag te treat.

Sy het Sondag op haar eie onkoste vir meer as 300 mense kos en ’n soet­happie voorgesit.

Fredericks fokus veral op gestremdes, bejaardes en kinders, maar sy wys niemand weg nie.

Sy sê: “Dit was altyd my begeerte om ’n sopkombuis te begin. Toe ek besef dat daar geen geld is om dit te doen nie, het ek my eie geld gebruik en dit is tot nou toe nog die geval.

Tekort

“Ek doen soms my twee kinders en kleinkinders wat by my bly tekort, maar ek ken baie mense se omstandighede hier en hulle verstaan waaroor dit gaan.”

Pieter Braaf (60) wat oorkant Fredericks bly, staan ook gereeld in die lyn.

Hy sê: “Mense waardeer wat Doreen doen. Ek is ook op haar lys en kan dit nie mis nie.

“Mense het Sondag in lang rye gestaan en almal is gehelp. ’n Mens kon die behoefte en waardering op sommige se gesig sien. Dis iets uit die hemel wat sy doen.”

Fredericks sê dit is baie moeilik om uit haar eie sak te werk, maar haar sopkombuis, Hoop en Omgee, is verlede week as ’n NPO geregistreer. Sy sê as sy donasies kan kry, kan sy meer mense help.

Enigeen wat haar in dié verband wil ondersteun, kan haar kontak by 078 561 2467.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters