3 maande gelede
Antie glo dit is gebed wat red
baie gelukkig: Die reuse-boomtak wat antie Anna Joseph mis geval het.Foto: BASIL DAVIDS  ~ 

ROBERTSON. – ’n Antie is amper bokveld toe as gevolg van ’n vallende boomtak.

Antie Anna Joseph (76) het Donderdagmiddag ’n noue ontkoming gehad. Die wind het daai dag baie sterk gewaai.

Joseph vertel dat sy buite in haar yard gestaan het, toe hoor sy net ’n vreeslike kraakgeluid vanuit die boom.

Sy vertel: “Ek het toe sommer onmiddellik geweet hier kom nou groot drama.”

Sy het nog probeer padgee toe sy opkyk en sien die bloekomboom se tak gaan direk op haar val.

Die ou boomreus van sowat 40 meter staan al jare in haar yard.

Sy vertel: “Ek het toe net my oë toegemaak en ’n skietgebed opgesê dat daardie boomtak nie op my moet val nie,” vertel Joseph.

Joseph sê toe sy haar oë weer oopmaak, het sy net gevoel hoe die blare teen haar klere skuur.

“Ek het na my kind geroep en sy het my toe tussen die blare kom uithaal,” vertel Joseph verlig.

Die antie is opreg oortuig dis haar skietgebed wat gemaak het dat die tak nie op haar geval het nie.

Joseph vertel oor die ou boomreus se geskiedenis: “Ek was nog ’n kind, toe staan die boom alreeds so hoog op ons werf.”

Bevrees

Volgens haar kan sy snags wanneer die wind so kwaai opkom, nie ’n oog toemaak nie.

“Ek is altyd bevrees die hele boom sal eendag met wortel en al op my huis val.”

Nou hoop sy net dat iemand haar sal kom help om die boom uit haar yard te verwyder.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters