3 maande gelede
Antie al 2 dekades in donker
ramp: Elizabeth April se huisie wat dreig om mee te gee.  ~ 

ROBERTSON. – Twintig jaar al sit sy met geen elektrisiteit nie en haar huisie is besig om in te gee.

Maar steeds het Elizabeth April (63) Woensdag gaan stem. April sê dit gaan nou al jare so aan dat sy vir dieselfde party stem, maar niks gebeur nie.

’n Moedelose April sê dis sleg om 20 jaar sonder krag te sit.

Haar krag het afgeslaan toe haar munisipale rekening agterstallig geraak het oor sy nie destyds werk kon kry nie.

“Ek het al met mense van die party gepraat om my te help as hulle so loop en stemme werf,” sê April.

Beloftes

Volgens haar is dit ná al die jare net dieselfde storie.

daar’s niks: Elizabeth April het al 20 jaar lank geen krag nie. Foto: BASIL DAVIDS

“Dit bly by beloftes wat hulle maak, maar ek sit maar steeds in dieselfde bootjie,” kla sy.

Elke dag moet sy hout in ’n bos gaan maak net om kos op die tafel te kry.

Haar enigste inkomste is haar AllPaytjie.

April sê sy vrees die komende winter en dit sal die huis se mure verder laat bars. Volgens haar slaap sy met een oog oop, so vrees­bevange is sy.

Volgens haar het stemwerwers dié keer nie eens kans gesien om by haar plekkie in te kom nie.

Met die verkiesing agter die rug hoop April dat die hopelik nuwe besems in die politiek ook oor haar drumpel kan kom vee.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters