Verlede maand
ANC eis ondersoek
SNUFFEL ROND: Moutie Richards, ’n ANC-raadslid in die Drakenstein Munisipaliteit, sê daar is sommer groot fout.FOTO verskaf  ~ 

DIE Drakenstein Munisipaliteit skuld Standard Bank meer as R500 miljoen.

Dié Bolandse DA-beheerde council hou egter vol dat sy finansies gesond is.

Die munisipaliteit het gereageer op die ANC se versoek vir ’n volskaalse ondersoek na sy beweerde swak finansiële toestand.

Rdl. Moutie Richards (ANC), leier van die opposisie, sê in ’n verklaring die council word R304 miljoen geskuld weens sy onvermoë om die geld by inwoners en besighede met uitstaande rekeninge in te vorder.

Volgens Richards is die munisipaliteit se eksterne lenings buite beheer en beloop dit 77% van sy operasionele begroting.

Die verklaring lui verder: “Tog is daar geen einde aan die munisipaliteit se dors na meer eksterne skuld nie.

“Daar is ’n tender vir ’n eksterne lening van R160 miljoen in ’n koerant geadverteer.”

Volgens die ANC is daar onderbesteding van R425 miljoen en dit beïnvloed dienslewering negatief. Die party meen dié geld kon gebruik word om byvoorbeeld personeel oortyd te betaal om dienslewering te verbeter.

Inwoners moet glo telkens hoor daar is nie na-uurs elektrisiëns beskikbaar nie.

Richards voeg by: “As ’n mens na die munisipaliteit se bankrekening kyk, sal jy dadelik sien hoe laag sy cash reserves is.

“Ek noem dit in die gees van aanspreeklikheid en deursigtigheid aan inwoners en belastingbetalers van die Drakenstein Munisipaliteit.

Erken

“Die ANC vra dat die ouditkomitee en die kantoor van die ouditeur-generaal ’n onafhanklike ondersoek uitvoer om agter die kap van die byl te kom.”

Jacques Carstens, finan­siële hoof van die munisipaliteit, hou egter vol alles is in orde met die munisipaliteit se geldsake.

Carstens erken wel dat die munisipaliteit tussen 2009 en 2019 lenings by Standard Bank aangegaan het.

Volgens hom het die raad dié lenings goedgekeur.

“Die munisipaliteit hét geld by Standard Bank geleen om te belê in infrastruktuur-dienslewering.”

Volgens hom het die munisipaliteit se rekening teen einde Junie op R500 262 392 gestaan.

“Die Drakenstein Munisipaliteit se finansies is in ’n gesonde toestand. Die munisipaliteit het nie ’n bank overdraft nie.

“Ons betaal ál ons krediteure met die kontant wat ons van kliënte kry wat hulle skuld betaal. Die Drakenstein Munisipaliteit gaan voort om dienslewering van hoë gehalte aan die gemeenskap te verskaf.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters