Verlede maand
Aktiwiteite by park is geen speletjies
PYN: Inwoners kla dat dié huis ongure karakters na hul buurt lok.  ~ Kallie Smit

SARON. – ’n Dagga-, tik- en hoerplek en ’n speelpark vir kinders is nie ’n goeie kombinasie nie.

Só reken ontevrede in­woners hier oor ’n speelpark en ’n half geboude huis in hul midde.

Dié inwoners eis nou die Drakenstein-munisipaliteit moet die speelparkie ver­wyder.

Die parkie en ’n huis langsaan wat al vir omtrent twee jaar half gebou staan, is nou ’n vergaderplek vir daggarokers en tikkoppe.

Dit bring groot probleme vir mense wat daar naby bly.

Die plastiek-vullisdrom by die parkie is laas Donderdag kort ná 21:00 moedswillig aan die brand gesteek.

Die inwoners kla die brand kon versprei het omdat die wind baie sterk gewaai het.

Die inwoners het die brand geblus kort voordat die brandweer opgedaag het.

Jong kinders hang in die half geboude huis saam met tikkoppe uit. Wanneer hulle daar verwilder word, gaan sit hulle in die speelparkie en rook daar.

’n Vrou wat reg langs die speelparkie bly en ’n huiswinkel op haar jaart laat bedryf, vertel ’n 13-jarige laitie het onlangs die winkelbaas met ’n speelgoedwapen gedreig.

Toe die winkel­baas hom in die straat vasgryp, het hy begin klipgooi. Toe die vrou hom daaroor berispe, het hy volgens haar geskel: “F*k na jou huis toe! Ek gooi jou ook sommer in jou ma se p**s.”

Skoolmeisies kom in die vroeë oggendure uit die huis saam met jongens en dan maak die jongens agterna­ gat van hulle.

Son dra eerstehandse kennis hiervan. ’n Betroubare bron wat een nag die gebeure dopgehou het, het vertel hoe van die meisies – 13 tot 15 jaar oud – al vir die jongens gesê het: “Julle kan nie eens reg n*** nie.”

Die polisie is al telkemale uitgeroep na dié huis, maar teen die tyd dat hulle opdaag­, is die booswigte weg.

’n Persoon wat anoniem wil bly, sê oor die parkie: “ ’n Mens kan nie snags slaap soos daar met die kettings van die swings geraas word nie. Dit gaan soms aan tot ná middernag.

Omgekrap

“Daar word net gevloek, dwelms gebruik, baklei en klip gegooi. Al wat uit die kinders en jong mense se mond kom, is ‘jou ma se p**s’ en ‘jou n***’.

“Mense moet gereeld op Sondae die diens by die kerk oorkant die parkie verlaat om die geraas daar stop te sit, veral wanneer die swings se kettings so om die stut­pale gedraai word.”

Son het al voorheen oor dié speelpark berig toe quad bikers die plek vir ’n rally gebruik en talle inwoners erg omgekrap het.

AO Mandla Dawede, bevelvoerder by die polisie­stasie, sê: “Ons sal die sigbaarheid en patrollie van die polisie by die huis en speelpark opskerp.

“Die mense moet ons laat weet wanneer daar probleme in hul gebied is.”

Die polisie het vroeg Vrydagaand met vyf polisievoertuie by die huis opgedaag en dit deursoek.

Portia Bolton, hoof van parke by die Drakenstein-munisipaliteit, het teen druktyd nie op Son se versoek om kommentaar oor die probleem gereageer nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters