8 maande gelede
Afkoel eis die hoogste prys

GRABOUW. – ’n Tragedie het ’n gesin getref toe hulle dogtertjie in ’n plaasdam verdrink het.

Kelly Wildskutt (9) het Dinsdag, net ’n dag voordat sy moes teruggaan skool toe, saam met haar maatjies, ouer broer en suster op die Remhoogte Plaas buite Grabouw gaan swem.

Maar sy het nooit teruggekom nie.

Volgens haar antie Christine Coert swem die kinders gereeld op warm dae in dié dam. Maar op die noodlot­tige dag het Kelly nie op die plek geswem waar sy gewoonlik swem nie.

Sy het saam met haar vriende aan die diep kant van die dam gaan swem en nooit weer opgekom nie.

Coert sê sy was by die huis toe sy die droewige tyding ontvang.

’n Hartseer Coert vertel: “Toe ons hier kom, was die polisie en die ambulans al op die toneel.

“Die paramedic was besig om haar terug te bring, want haar hart het nog geklop.

“Sy het ook ’n polsslag gehad. Hulle het alles probeer om haar terug te bring.

“Die paramedic het ná meer as ’n uur opgegee.”

Ashley Oosthuizen (18) het soos ’n regte held opgetree toe hy sien Kelly is besig om te verdrink.

Hy vertel aan Son hy het iemand in distress in die water gesien en tot aksie oorgegaan.

Noodhulp

“Ek was besig om te loop toe ek sien iemand spartel in die water.

“Ek het haar broer geroep en na die dam gehardloop. Ek het haar uit die water gehaal en noodhulp op haar begin toepas.

“Daar het skuim by haar neus en mond uitgekom. Daar het ook water by haar neus uitgeloop.

“Ek het alles probeer...”

By Son se besoek aan Kelly se ouers was hulle op pad na die lykhuis in Hermanus om hulle dogtertjie se lyk te gaan uitken. 

Kelly Wildskutt (9)FOTO Verskaf

Die droewige ouers was nog te getraumatiseerd om met Son te praat.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters