26 dae gelede
Addiction kán oorwin word
SKOON: Josh Springton (43) is oor sy drug habit.  ~ Basil Davids

WORCESTER. – Hy was maar 10 jaar oud toe hy in drugs verval het.

Josh Springton (43) is vandag soos ’n spring chicken nadat hy wonderbaarlik van die drugs weggeruk is.

Springton sê dis net ’n wonderwerk wat met hom gebeur het.

Nog voordat Springton sy 40ste verjaardag gevier het, het hy ’n oordosis drugs geneem.

Koma

“Ek het figure en mannetjies voor my gesien en skuim het uit my mond geborrel. Die bloed het ook uit my ore uitgetap,” het hy vertel.

Volgens Springton het sy suster hom in haar kar gelaai en hospitaal toe gejaag.

Hy’t in ’n koma gegaan en toe hy uiteindelik later wakker word, het ’n nurse gesê hy het naby die dood omgedraai.

Springton sê die dag met sy 40ste birthday het hy weer heavy in die drugs geklim.

“Nadat ek die drugs ingeneem het, het presies dieselfde met my gebeur,” verduidelik hy.

Volgens hom het die dokters daai dag geen hoop meer vir hom gehad nie.

“Ek kon voel hoe die lewe uit my gaan,” laat hoor Springton.

Volgens hom kon hy voel hoe twee mense aan sy arms trek en hy sê hy het ook stemme gehoor.

“Ek kon ook voel hoe ek vanaf die hospitaalbed gelig word.”

Volgens hom het hy geweet dat dit God en die duiwel was wat vir sy siel baklei.

Springton sê hy het in sy onderbewussyn aan God gevra om hom net weer ’n kans te gee.

“Ek kon voel hoe ek weer terug op die bed neergesit word,” vertel Springton.

Hy sê hy kon duidelik hoor hoe die verpleegsters vir sy lewe veg.

Volgens Springton kon hy ook hoor hoe die verpleegsters sê dat hulle hom verloor het.

“Ek het toe wakker geword en was sopnat gesweet,” sê Springton verlig.

Volgens dié eks-druggie het hy nog ’n paar dae in die hospitaal aangesterk.

Gelos

Daarna het hy sy plaaslike kliniek nog daagliks besoek. Hy het daar berading ontvang.

Dit is toe dat hy die goed gelos het.

Springton wil sy storie met veral die jonger geslag deel.

“Moenie dat drugs jou jong lewe oorneem nie.

“Ek sien die lewe deesdae anders en kry hulp,” waarsku Springton ernstig.

Hy is deesdae ’n gekwalifiseerde elektrisiën wat sy job elke dag geniet.

Hy sê hy het ná sy rehabilitasie kanse in die lewe gekry en dit met albei hande aangegryp.

Springton wil graag almal bedank wat hom steeds help met sy rehab.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters