3 maande gelede
Abba-kadabra!
HeldIN: Ronelda Velem dra ’n medeleerder by die skool in. FOTO’S Verskaf  ~ 

’N MATRIEKLEERDER van die Hoërskool Breërivier in Worcester het gister van haar medeleerders deur die vloedwaters by die skool in geabba.

Ronelda Vellem (18) van die plakkerskamp in Avian Park was die een wat haar lyf barmhartige Samaritaan gehou het.

Met ’n geel oorpak en rubber boots was sy reg aangetrek vir die koue, nat weer en die poel water by die skool se hek.

Van die ander kinders was nie so voorbereid nie.

Ronelda het toe van die kleiner leerders op haar rug deur die poel gedra.

Baie leerders wat in Avian Park woon, moet die R43-hoofweg oorsteek om by die skool uit te kom. ’n Besorgde gemeenskapsleier sê die leerders moet jaarin en jaaruit in haglike omstandig­hede die skool haal.

“En wanneer dit so reën soos die laaste dae, moet hulle swem om by die skool uit te kom.”

Slootjie

Verskeie leerders wat papnat by die skool opgedaag het, is huis toe gestuur.

Ronelda is ook huis toe gestuur.

Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van onder­wys, het gesê die water dam op weens ’n slootjie by die Villiersdorp-pad en waar die hek na Breë­rivier se skoolterrein geleë is. “Die amptelike ingang na die skool is nie vol water nie.”

Sy het gesê die leerders wat dié hek gebruik en nat was, is huis toe gestuur om ander klere aan te trek.

Volgens Hammond het baie min leerders van Breë­rivier en Avian Park vir skool opgedaag. “Ek het van geen ander skole verslae gekry dat hulle as gevolg van die weer lae bywoningsyfers gehad het nie.”

Johan Botha, woordvoerder van die Breërivier-munisipaliteit, sê hulle is bewus van die opdamming van water by die betrokke skool en Avianpark woonbuurt.

"Die probleem word veroorsaak deur twee slote, een in Avianpark en een in die omgewing van die skool. Dit ontstaan deurdat allerhande gemors asook klippe daarin gestort word, wat dan verstoppings veroorsaak.

"In beide gevalle het dit ongerief vir die inwoners van die area en die leerders veroorsaak. Die munisipaliteit het die obstruksies verwyder en stel tans ondersoek in na ’n permanente oplossing vir die probleem.

"Daar word ook ’n beroep op inwoners gedoen om nie voorwerpe in riole asook stormwater- en ander afvoerslote te stort nie."

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters