20 dae gelede
50 jaar skud nie memory
AARDBEWING: Groot skade is daardie nag in 1969 aangerig.Foto: TULBAGH MUSEUM  ~ 

MORE is dit presies 50 jaar vandat een van die hewigste aardbewings nóg in Suid-Afrika die dorp Tulbagh getref het.

Dit het 6,3 op die Richterskaal gemeet.

Omstreeks 22:00 op daardie verskriklike nag in 1969 was mens en dier aan die natuur uitgelewer.

Gouda, Wolseley en Ceres is ook erg getref.

Johan van Tonder, algemene handelaar in Gouda, sê hy’t gehoor hoe “skelms” blikkies in die winkel afgooi. Hy het hulle dié aand met sy haelgeweer gaan inwag.

Die blikkies het waarskynlik van die rakke afgeval weens ligte trillings voor die werklike aardbewing.

Gouda se berge het gebrand en ’n swawelreuk het in die lug gehang.

Huise is beskadig en verwarde honde het getjank.

Op die plaas Ouplaas buite Tulbagh het rotse van die berge afgerol.

Tulbagh se hele Kerkstraat is verwoes.

Die straat is later herbou en deur die regering tot ’n nasionale erfenisgebied verklaar.

Die Oude Kerk Volksmuseum en die Aard­bewingmuseum is albei in dié bekende straat.

Die amptelike sterfte­syfer staan, volgens die Oude Kerk Volksmuseum, op 11 mense.

Van die slagoffers is Alida Apollis (7), Louisa Fortuin (1 maand), Anna Gallies (55), Dorina en Lena (4) Joemat (7), Maria Rabie (3), Gertrude Krieg­ling (4) en Johanna Solomons (3 maande).

Die huise wat die ergste deurgeloop het, was meestal dié van plaas­werkers.

Dit was gebou van klei en kon tot versmoring lei as dit inval.

Tulbagh was van die buitewêreld afgesny. Die regering het die gebied tot ’n nasionale rampgebied verklaar. Selfs die weermag se hulp is ingeroep.

Die skrywer was ses jaar oud toe die aardbewing die dorp tref. Hy onthou dit asof dit gister was.

“Die weermag het drie dae later opgedaag en mense van weermagtente voorsien.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters