4 jaar gelede
Familie soek al weke ná cops ou laai
Bradley James. Foto verskaf  ~ 
Bradley James. Foto verskaf
Bekommerd: Sanna Conradie mis haar kleinseun elke dag. Foto’s: wesley martin
soektog: Jacobus Conradie en Juanita Piet doen alles in hul vermoë om James op te spoor nadat hy vermis geraak het.

HY HET soos mis voor die son verdwyn nadat hy deur die cops opgelaai is.

Die familie van Bradley James (22) van Blackheath is erg bekommerd oor hulle vanaf 11 Desember nog niks van hom gehoor het nie.

Volgens James se ouma Sanna Conradie het ’n tjommie van hom vir hulle kom sê hy’s deur die polisie opgelaai nadat hy batterye van langpad-drywers gesteel het.

Die polisie van die Kleinvlei-polisiestasie staan nou uit die water, sê Conradie.

Conradie vertel: “Ons was al hoeveel keer by die polisiestasie, maar niemand kan vir ons sê wat van die kind geword het nie.

“Een polisiebeampte het gesê toe hy opgelaai is, is hy reguit na die Blue Downs-landdroshof geneem.

“Hy het toe gesê ons sal by die hof moet gaan hoor wat van die arme kind geword het.”

James se oupa Jacobus sê toe hy op sy beurt weer na die Kleinvlei-polisiestasie toe is, is daar weer ’n ander storie aan hom vertel.

“ ’n Polisievrou het deur ’n boek gegaan en gesê hy was wel daar, maar dat hulle nie kan sê wat van hom geword het nie.”

Juanita Piet (18), James se niggie, sê sy bel elke dag na die Pollsmoor-gevangenis, maar sonder enige sukses.

Piet sê: “Elke keer as ek bel, sê hulle ek moet op ’n ander dag bel.
“Dis elke dag dieselfde storie.”

Conradie sê sy en haar man is te oud om na James by die Pollsmoor-gevangenis te gaan soek.

Sy sê: “My man se bene werk nie meer so lekker nie.”

’n Polisiewoordvoerder by die Kleinvlei-polisiestasie, kapt. Florina Muller, sê die saak is nog nie onder hul aandag gebring nie.

Muller sê: “James se familie sal self na die polisiestasie toe moet kom sodat ons kan kyk na die verloop van die saak.

“Ek weet nie met wie hulle gepraat het nie, maar ek het nog niks gehoor nie.

“Ek sal ook nie in hierdie stadium al kan sê of hy wel hier ingeboek was nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters