18 dae gelede
Matrieks: Butterflies toe onnodig
Gereed: Dixon Pawuli, Craig Fortuin, John Wayne Lingerveld, Jayswine Booysen en Jandre Antha gesels oor die eksamen.  ~ Basil Davids

ROBERTSON. – Eers butter­flies, toe ’n lekker verrassing toe die matrieks gister hulle Afrikaans 1-vraestel skryf.

Die groepie leerders van die Sekondêre Skool Langeberg was gisteroggend voor die eksamen nog vreeslik senuagtig.

Hulle sê hulle het gehoor die Afrikaans-vraestel gaan baie moeilik wees.

“Dit het ons nogal butter­flies gegee, en toe was dit net die teenoorgestelde,” sê die seuns baie verlig aan Son.

Dixon Pawuli (19) sê toe hy verneem die vraestel gaan hulle opdraande gee, het hy ’n skietgebedjie gedoen en gevra vir kalmte.

“Dit is nogal iets vreesliks wanneer jou maag begin draaie gooi en jy weet jy het jou goed voorberei,” sê hy.

Craig Fortuin (19) was saam met sy pelle die ene nerves.

“Ek het vir myself gesê om net kalm te bly. Toe ek die vraestel oopmaak en die vrae sien, was my nerves nie meer so vreeslik nie,” sê Fortuin.

Smile

Ná die tyd het hulle aan Son gesê die mense wat verkondig het die vraestel gaan moeilik wees, het seker net hulle been getrek.

Mauneen Hartnick (18) smile van oor tot oor en moedig alle matrieks aan om nou net gefokus te bly; hulle moenie dat negatiewe stories hulle nou onderkry nie.

Die matrieks skryf vandag fisiese wetenskap 1.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters