Verlede maand
Wees altyd daar vir mekaar
LEWENSUITKYK: Stanton Rodrigues probeer altyd optimisties bly. foto VERSKAF  ~ 

DIE LEWE is kort en ons moet mekaar waardeer.

Stanton Rodrigues vertel dít is wat hy die laaste tyd in die lockdown-periode geleer het.

Die 31-jarige is die afgelope 14 jaar skoon van dwelms en beskryf dit as net die genade van die Here wat hom verlos en bevry het.

“Ek is so dankbaar vir God vir die redding van my siel en dat ek nou ’n pragtige vrou, Romay, en twee dogters, Isabella en Hadassah, het. Hulle motiveer my om ’n verskil te maak.”

Dié boorling van Hanover Park is nie skaam om te praat oor hoe hy vasgevang was in dwelms nie.

Rapmusiek

Hy het by ’n herstelsentrum in Vredenburg besluit om sy lewe te verander.

“Ek het maar altyd ’n liefde vir rapmusiek gehad. So, die dag toe ek tot bekering kom, het ek geweet dit is hoe die Here my sal gebruik om jong mense te inspireer deur ’n positiewe boodskap met rapmusiek oor te dra.”

Hy het ook altyd die begeerte gehad om sy eie besigheid te hê. Verlede jaar kon hy daardie droom met ’n klein catering-besigheid laat realiseer.

Sy familie is nie net sy inspirasie nie, hulle hou hom ook staande. Daarom probeer hy vir ontspanning om tyd saam met hulle deur te bring. “Ons gaan vir uitstappies na die strand of kyk movies.”

Hy vertel: “My motto is om positief te bly. Reik uit in liefde en wees daar vir mekaar, want môre is nie gewaarborg nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters