12 dae gelede
Van George na Mauritius
MOTIVERING: Anrich sê Jermaine is sy inspirasie. Veral haar liefde, standvastigheid en way om probleme te pak laat hom voel niks is so moeilik nie. foto’s VERSKAF  ~ 

HY IS gebore en getoë in Pacaltsdorp, George, maar vandag bevind hy hom in die pragtige Mauritius, waar elke dag soos vakansie voel.

Anrich Daseman, die oudste van drie kinders, werk reeds sedert September op die eiland.

Hy vertel: “Basies adviseer ek sentrale banke oor regulasies en beleide ten opsigte van finansiële tegnologie.

“Die geleentheid het aan my deur kom klop en toe vat ek dit. Ek sien dit as ’n geleentheid om ’n bydra te maak op die kontinent en internasionaal.”

Vir Anrich is dit belangrik om ’n gebalanseerde lewe te lei. Hy vertel: “Mense heg so baie waarde aan prestasies, maar familie en geloof is net so belangrik en moet ook prioriteit kry.

“Ek het grootgeword in Pacaltsdorp en omdat my ouers deur die dag by die werk was, moes ek ná skool by my ouma bly.”

Die 39-jarige vertel: “Ek onthou daar was ’n bos en rivier naby my ouma se huis en ons kon altyd van enige ding ’n speelding maak en as kinders net lekker speel.”

Oplos

Nou, jare, later spog hy met twee grade agter sy naam, maar Anrich se voete is plat op die aarde.

Hy voeg by sy vrou, Jer­maine, is sy inspirasie. Dis veral haar liefde, standvastigheid en manier van probleme oplos wat hom laat voel niks is so moeilik nie.

Anrich sê hy en Jer­maine mis hul familie en vriende en natuurlik ook Suid-Afrikaanse geregte.

“Ons mis ook die kerk, want ons het nog nie ’n geestelike tuiste gevind nie. So, daar is nog ’n leemte met die geestelike voeding.”

Maar wat geniet hulle die meeste van Mauritius?

“Die blootstelling aan verskillende kulture en tradisies,” sê Anrich.

Hy noem: “Dis belangrik om in die moeilike tye altyd te onthou daar is ’n silwer randjie.

“Ons besef dalk nie op daardie oomblik wat die rede is dat ons ly of swaarkry nie, maar alles gebeur met ’n doel.”

Anrich vertel met ’n glimlag: “Ek het by my sportonderwyser, wyle Basil Kock, geleer aanhouer wen. Hoe moeilik die situasie ook al mag wees, druk deur.”

Sy boodskap van hoop is – saam kan ons soveel meer bereik.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters