Verlede maand
‘Tyd om reg te leef met mekaar'
MUSIEK: Allou April tydens ’n jazz-konsert in die dae voor Covid-19. Foto: Peter Abrahams  ~ 

ALLOU April vier vanjaar 40 jaar in die musiekbedryf.

Hy onthou nog die eerste orkes waarin hy gespeel het, was Sunbeam.

“Ek het dit met my oom gejoin. Hy het my ook geleer kitaar speel. En soos hulle sê, die res is geskiedenis,” vertel hy.

Dié boorling van Saldanhabaai sing deesdae egter ’n ander deuntjie. Een wat die siel stig en die blye boodskap van die evangelie verkondig.

Die sanger en musiekvervaardiger het sowat twee weke gelede ook sy jongste enkelsnit, “Chains Must Fall”, uitgereik.

Hy sê: “Dieselfde dag toe ek die lied geskryf het, het ek die gospelsanger Wilmot Fredericks gebel en gevra om die lied te record. Die lied het net perfek by sy stem gepas.”

Verloor

Sy inspirasie vir die lied kom uit die tyd waarin ons leef.

Hy sê: “Vandag sien jy jou vriende en môre is hulle net weg. Ek het die laaste tyd ook baie familievriende verloor, wat nie maklik is nie.”

Ten tye van die onderhoud was April besig om gereed te maak om na ’n begrafnis te gaan.

“Ons moet in vrede met mekaar leef en die kettings van onvergewensgesindheid moet val. Ons weet nie wie is volgende nie.”

April is tans ook besig om musiek te skryf vir ’n TV-reeks.

Vir die toekoms is sy boodskap van hoop om vas te hou aan Jesus.

“Wees besig met die werk van die Here. Leef reg met mekaar en ver­gewe mekaar.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters