16 dae gelede
Sy wil jonges met dans bemagtig
DRA DIE kroon: Chanice Adriaanse by ’n onlangse kerklike toekenningsaand waar sy as beste danser van die jaar aangewys is.foto VERSKAF  ~ 

DANS, dans, dans en nogmaals dans.

Dit is wat sy in die grendeltyd gedoen het en dit het vrugte afgewerp.

Chanice Adriaanse (16) van Delft vertel sy dans al van kleins af en het in die kerk begin.

Haar ma, Chinine, sê: “Ek het altyd geweet my dogter het talent. Sy het baiekeer sommer so in die pad aan die dans geraak.

“By die kerk het sy by die dansgroepie Breaking Barriers betrokke geraak.”

Dinge was nie altyd vir die 16-jarige maklik nie.

Sy vertel: “Dit was nie ’n maklike pad nie.

“Al by my geboorte was daar komplikasies, maar deur die Genade van Bo staan ek vandag.”

Dankbaar

Chanice sê sy weet sy is tot alles in staat deur die krag van haar Skepper.

“Daar is uitdagings, maar ek het geleer – soek eers die Koninkryk van God en die ander dinge kom vanself.”

Sy voeg by dat sy dankbaar is vir haar ma, wat haar inspirasie is.

Chanice vertel dit is haar droom om eendag haar eie dansskool te begin en om die jeug in haar gemeenskap te bemagtig.

“Aan die jong mense – moet nooit toelaat dat jou omstandighede jou terughou om jou drome te bewaarheid nie. Sit jou vertroue in die Here en Hy sal vir jou sorg,” sê sy.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters