2 maande gelede
Sheree moedig mense aan om altyd in hulself te glo
skitter: Sheree Pieterse­ se single “Shine” bemoedig mense.foto verskaf  ~ 

“MY SINGLE ‘Shine’ moedig mense aan om hul drome na te jaag en nie toe te laat dat die opinies van ander hulle van koers af bring nie.”

Só vertel die gospelsangeres Sheree Pieterse (33) wat in Eersterivier grootgeword het en deesdae saam met haar man, Nathan (37), en hul dogter, Kiara (10), in Bellville woon.

“In April 2021 het ek die lied geskryf. Ek het goed daaroor gevoel en dit het my selfversekering gegee.

“Ek het voorheen altyd gevoel dat ek nie goed genoeg as ’n sangeres is nie.

“Ek is uniek en besef ek is tot alles in staat deur die Here wat my krag gee.

“Jy hoef nie te wees wat die wêreld sê jy moet wees nie. Embrace jouself en leef jou droom uit.”

Senuwees

Sheree sê dit was ’n voorreg om saam met Tristan Arendse en Herschelle Sheldon in die ateljee te werk.

Sy het onlangs op die Expresso Morning Show op “Gospel Monday” haar single perform.

“Ek was baie op my senuwees, maar ná die eerste performance het ek meer gemaklik voor die kameras begin voel.”

Sheree het in 2006 toerisme studeer, maar sy het besef dis nie vir haar nie.

In 2013 het sy tegnologie aan die Universiteit van Kaapstad gaan studeer. Sy werk tans as ’n tegniese projekbestuurder by Fintech.

Vir ontspanning skryf sy graag nuwe musiek en as daar ’n aanvraag is, skryf sy ook vir ander kunstenaars.

Sy deel dié raad: “My boodskap van hoop is glo in jouself. Met harde werk en toewyding kom sukses.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters