4 maande gelede
Sangeres wil ander hoop gee deur musiek
LOER IN: Die sangeres en liedjieskrywer Leandra Basie gaan op die Pinksterfees in Beaufort-Wes optree.  ~ Foto Verskaf

SY gebore en getoë in ’n klein dorpie genaamd Niekerkshoop in die Noord-Kaap.

Leandra Basie (34), wat deesdae in Wesbank woonagtig is, is dankbaar dat sy in ’n geestelike huis by haar ouma en oupa grootgeword het.

“My oupa was my grootste inspirasie. Destyds was ek mal oor Rebecca Malope se musiek. Al het ek nie ’n woord verstaan nie, het ek kliphard saamgesing.”

Basie vertel sy het in die Sondagskool begin sing.

“En in 2016 het (profeet) Francisco Tejada my opgesoek."

Unieke

“Dis toe dat ek my eerste album, Groot is die Liefde van God, saam met Dumisani uitgereik het.”

Sy het ’n unieke manier om koortjies te sing soos hulle dit net daar in die Noord-Kaap doen.

“Die lied ‘Here, Lei My om te Bid’ is ’n lied wat ek self geskryf het en die lied het my gedra deur ’n moeilike tyd toe my suster tragies geskiet is.”

Die sangeres sê sy skryf tans nuwe musiek, want sy voel dit is nou die regte tyd, veral in die tyd van die pandemie, om nuwe hoop te gee.

“My geloof in God is my anker en daarsonder is my lewe doelloos.”

Julle kan gerus op 1 Mei gaan inloer by die New Fountain-kerk in Beaufort-Wes, waar Basie op die Pinkster-fees gaan optree.

Alle Covid-19-protokolle sal in plek wees.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters