Verlede maand
Sanger gee God die eer
SANGER: Maartin Kwaieng maak musiek vir God.  ~ Foto Verskaf

VANDAG maak ons kennis met ’n talentvolle gospelsanger en liedjieskrywer uit die Noord-Kaap. Sy naam is Maartin Kwaieng.

Maartin is gebore in Hopetown. waar hy ook grootgeword en sy skoolopleiding ontvang het. Op die jeugdige ouderdom van 16 het Maartin sy hart vir die Here gegee. Ná matriek is hy weermag toe.

Maartin sê dat hy in die kerk ontdek het hy kan sing.

Hy het besef dat hy ook iets met sy talent kan doen om ander te inspireer.

Van laerskool af het hy ook op die sportveld uitgeblink.

Sommige van sy vriende het soveel vertroue in sy sportvermoëns gehad, dat hulle wou hê hy moes in Bloemfontein aan sokkerproewe gaan deelneem met die oog op ’n moontlike plek in die Premierligaspan Bloemfontein Celtic.

Maartin se kop het egter net in een rigting gestaan: Gospelmusiek. Hy wou niks anders doen behalwe om die naam van die Here deur sang te verkondig nie.

Maartin het sy eie songs begin skryf en dit het gelei tot die verskyning van sy eerste CD, Hy Vergewe, tydens die inperking in 2020.

Daar is 12 liedjies op dié album waarvan 11 uit Maartin se pen kom.

Hy is tans hard besig met die skryf van nuwe materiaal vir ’n volgende album. Hy hoop om dit voor die einde van die jaar uit te reik.

Maartin is nederig en te midde van sy sukses hou hy sy voete plat op die grond. Hy gee die ál eer aan sy Skepper.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters